Uitgelekte vraestelle: Umalusi ‘teleurgesteld’ met uitspraak

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, sê hoewel hy teleurgesteld is met regter Norman Davis se uitspraak rakende die herskryf van die uitgelekte vraestelle, sal hy dié uitspraak respekteer.

Davis het beslis dat die oorskryf van die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel ongrondwetlik is en matrieks hoef nie hierdie vraestelle oor te skryf nie.

Umalusi wou egter nie in in dié stadium meer sê hoe hy nou die gehalte van vanjaar se matriekeindeksamen gaan verseker nie.

“Umalusi kan tans nie die uitkoms van sy eie proses met betrekking tot die goedkeuring van die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae van 2020 vooruitloop nie aangesien die raad eers sy volledige gehalteversekeringsproses in werking moet stel voordat ’n finale beslissing oor die geloofwaardigheid en integriteit van die nasionale eksamens gemaak kan word.”

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê alle oë is nou op Umalusi wat in Februarie volgende jaar die uitslae van die afgelope matriekeindeksamen as geloofwaardig moet sertifiseer.

“Ons glo die uitspraak bring groot verligting vir matriekleerders en ouers wat tot op die nippertjie moes wag vir duidelikheid. Fedsas het uit die staanspoor deernis gehad met die derduisende matrieks wat op eerlike wyse aan die twee oorspronklike eksamens deelgeneem het,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.

Deacon sê Fedsas se prioriteit is om gehalte-onderwys toeganklik te maak vir alle leerders. “Dit begin op die eerste dag van ’n leerder se skoolloopbaan en eindig die dag wanneer daardie leerder met ’n Nasionale Senior Sertifikaat die skoolstelsel verlaat. Vir die Suid-Afrikaanse samelewing, hetsy tersiêre instellings of potensiële werkgewers, is dit natuurlik belangrik dat die proses bo verdenking is om waarde aan daardie matrieksertifikaat te kan heg.”

Fedsas sal nou Davis se uitspraak bestudeer om seker te maak dat die integriteit van die eksamen en die waarde van die Nasionale Senior Sertifikaat nie onder verdenking gaan wees nie.

Die VF Plus het intussen gesê hy is saam met vanjaar se matriekleerders verheug dat die twee uitgelekte vraestelle nie oorgeskryf hoef te word nie.

“Die VF Plus het al vantevore standpunt ingeneem dat onskuldiges altyd met misdaad die duurste betaal. In daardie stadium het die VF Plus vermoed dat Umalusi se aandrang dat die vraestelle oorgeskryf moet word om die integriteit van die eksamen te beskerm, voorrang sou geniet. Die party is saam met matrikulante verheug dat dit nie die geval is nie,” sê Wynand Boshoff, die party se woordvoerder vir basiese onderwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacobus ·

Sê die groep wat moet verseker dat alles dollies is. Storie van ons land.

Wonder net ·

Mmm… laat mens dan nou mos wonder of die vraestel nie met n doel uitgelek is nie.

Kobus ·

Hoekom al die bohaai? Hulle pas die punte in elkgeval aan sodat slaagpersentasie beter lyk.

Jaco ·

Waarom is hulle teleurgesteld? Dis vraestelle van die moeilike vakke wat uitgelek het. Vakke waar vaste wetenskaplike reëls nie gebuig of makliker gemaak kan word nie. Ek vermoed Umalusi het self die vraestelle laat uitlek…
Net so terloops, waarom lek vraestelle van maklike vakke soos lewensoriëntering en toerisme en geskiedenis nooit uit nie?

Frederik C ·

Wat wou oumalusi bereik deur alle matrikulante te dwing om die eksamen oor te skryf ????

Meyndert ·

As hulle die vraestel 6 maande voor die eksamen gehad het sou ‘n paar van hulle dalk al die antwoorde uit hulle kop kon opsê. Wat jy nie in jou 12 jaar skool loopbaan kon leer om weer ts gee nie, en jou ‘n goeie slaagsyfer waarborg nie, kan jy ook nie in 10 dae en nog minder in 2 dae leer nie. Onthou dat hulle ook besig was met skryf van ander vakke en ‘n dag is net so lank. Nee wat ek dink amper niemand is bevoordeel met die lek nie. ‘N 85% presteerder kan dalk nou 90% kry, maar ‘n 30%ter bly maar net ‘n 30%ter ongeag of hy die vraestel vir 2 dae gehad het of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.