Uitgerekte Pikitup-staking uiteindelik verby

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Die maandlange staking deur Pikitup-werkers het uiteindelik Saterdagaand tot ʼn einde gekom toe die stad en die South African Municipal Workers Union (Samwu) ʼn ooreenkoms bereik het.

“Die stad Johannesburg verwelkom die skikkingsooreenkoms tussen Samwu, Pikitup en die stad, soos gefasiliteer deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA),” het die stad in ʼn verklaring gesê. “Volgens die ooreenkoms kom die maandlange staking, wat op 9 Maart 2016 begin het, tot ʼn einde.”

Die staking van Samwu-lede by die vullisverwyderingsmaatskappy het daartoe gelei dat vullis ophoop en dit het verskeie gesondheidsrisiko’s ingehou, veral in lae inkomste-, hoëdigtheidsgebiede in die stad.

Werkers het ʼn salarisverhoging geëis en daarop aangedring dat die besturende direkteur van Pikitup, Amanda Nair, moet bedank. Sy is vroeër in die hooggeregshof onskuldig bevind aan enige klag van korrupsie, maar Samwu het beweer hulle het nuwe getuienis teen haar.

Die stad het gesê werkers sal “onmiddellik” terugkeer werk toe en alle intimidasie en geweld sal ophou. Daar is ook ooreengekom dat werknemers van Pikitup nie geviktimiseer of geteister sal word nie.

“Pikitup sal ʼn eenmalige betaling van R750 aan alle Graad A en B-werkers doen en dit sal in berekening gebring word in die verdere onderhandelings tussen 11 en 13 April onder leiding van die KVBA.”

Die stad het gesê die beginsel van geen werk-geen betaling geld, maar 50% van die aftrekking sal teruggehou word en oor ʼn periode van twee maande tussen Mei en Junie geld.

“Indien werkers onmiddellik terugkeer werk toe, sal dit in ag geneem word as versagtende omstandighede van die sanksies in tugverhore.”

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frederik ·

Praat jy!! Volgende jaar duur die onwettige staking net langer, want hul sien mos nou hul is onaantasbaar.

hans ·

Daar kan maar aanvaar word dat munisipale tariewe op 1 Julie 2016-nuwe muinispale boekjaar-skerp gaan styg!!!om aan onredelike salaris eise te voldoen.

Jaco ·

kom ons maak die hele land en die hele ekonomie 100% kommunisties. dan behoort alles aan die staat, almal werk vir die staat en salarisse verander in toelaes vir kos, klere ens. Stakings is dan sommer ook onwettig.

Scalla ·

Alles draai net om geld, no work no pay, jaag hulle weg sonder enige vergoeding en stel mense aan wat dit wil en kan doen, vesagtende omstandighede se dinges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.