Uitgespoelde dolfyn betyds gered

Die dolfyn word terug in die see in geneem. Foto: NSRI

Danksy vinnige optrede van lede van die publiek en beamptes van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Jeffreysbaai, kon ʼn dolfyn betyds gered word nadat dit Donderdag op die Kabeljousstrand uitgespoel het.

Die NSRI is omstreeks 06:00 deur die publiek na die strand ontbied nadat strandgangers op die dolfyn afgekom het waar dit uitgespoel het. Lede van die publiek het probeer om die 2,5 m lange dolfyn terug in die see te kry, maar kon nie daarin slaag nie.

Rieghard Janse van Rensburg, stasiebevelvoerder van die NSRI in Jeffreysbaai, sê bemanningslede wat opgelei is om uitgespoelde seediere te hanteer, het dadelik maatreëls in plek gestel om die dolfyn nat te hou, terwyl skarebeheer toegepas is om te verhoed dat mense om die benoude dier saamdrom.

“NSRI-beamptes is ondersteun deur ʼn lewensredder van die Kouga-munisipaliteit en lede van die publiek wat hul hulp aangebied het,” sê Janse van Rensburg.

ʼn Marienebioloog van Bayworld en ʼn veearts van Cape Cross is gestuur om te kom help.

“Die dolfyn was op die oog af gesond en ons het ons seereddingsboot, Projects Group, ingespan. Die dolfyn is op ʼn doelgemaakte draagbaar gelaai en van daar op die reddingsboot. Die dier is drie kilometers die see ingeneem en daar vrygelaat. Ons is vol vertroue dat die dolfyn sal oorleef,” het Janse van Rensburg gesê.

Hy sê NSRI-beamptes sal nietemin oor die volgende paar dae die strande monitor in geval die dolfyn weer uitspoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.