Uitgestorwe ietermago terug in SA

Temminck-ietermago (Foto: African Pangolin Working Group via Facebook)

Die Temminck-ietermago, wat 40 jaar gelede in KwaZulu-Natal uitgesterf het, gaan terugkeer na dié streek. Dit is te danke aan ʼn nuwe program wat deur die African Pangolin Working Group ontwikkel is om dié miervreterspesie stadig maar seker terug in die omgewing te bring.

Die omgewingsnuusblad Mongabay berig dié organisasie gaan deur die program die ietermago-spesie weer stadig in die omgewing “vrylaat”. Die diere se bewegings gaan met GPS-satelliet- en VHF-radio-naspeurmerkers noukeurig dopgehou word.

Dié program is deel van ʼn wêreldwye poging om dierebevolkings weer te herstel, waar nodig.

Daar is verlede jaar sewe ietermago’s in die andBeyond Phinda-natuurreservaat in KwaZulu-Natal vrygelaat. Twee het intussen aan natuurlike oorsake gevrek. Die oorblywende vyf het oorleef en floreer in die omgewing.

Ietermago’s, wat ook bekendstaan as miervreters, is een van die grootste slagoffers van onwettige handel. Die polisie het verlede jaar beslag gelê op 97 ton dekskubbe van sowat 150 000 ietermago’s, waarmee onwettig handel gedryf is.

Die African Pangolin Working Group is ʼn organisasie wat daarna streef om al vier ietermago-spesies in Afrika te bewaar en te beskerm teen uitsterwing. Baie van die diere sterf ook uit weens mensgemaakte elemente soos elektriese heinings.

Die polisie se eenheid vir bedreigde spesies het vandeesmaand ʼn verdagte in besit van ʼn Temminck-ietermago-mannetjie in hegtenis geneem. Die man is aangekla van die besit van ʼn bedreigde spesie. Die ietermago was in ʼn draadstrik vasgevang. Hy het sere oor sy lyf gehad. Hy word tans by ʼn veearts behandel.

Intussen het die Chinese regering dit verbied dat ietermago-dekskubbe in tradisionele Chinese medisyne gebruik word. Sekere kultuurgroepe in China glo ietermago’s het genesende kragte, wat verder veroorsaak dat die diere doodgemaak word vir tradisionele medisyne.

Volgens bewaarders sal dié besluit die kommersiële handel van ietermago’s binne China heeltemal stopsit en ook die internasionale handel van die spesie beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Plaaskind ·

Te oulik, kyk net die gesiggies – hoop hulle getalle klim sommer vinnig weer.

Eerlik ·

As die sjinese hulle uitlos behoort hulle weer te floreer.

Jacobus ·

Die Sjinese het genoeg skade in die wêreld aangerig. Basta!

Coenie ·

Indien die Ietermago heeltemal uitgesterf het, hoe op aarde is dit moontlik dat hy terug kan wees?
As daar niks van die Temminck spesie oorgebly het nie, is dit onmoontlik. Is dit ‘n ander spesie of kruising dalk?
Kyk maar na die Knysna olifant: Van die oorspronklike spesie is daar moontlik net een oor (laas in 2019 gesien/bevestig deur SANParks). As dinosourisse dan uitgesterf het en hierdie berig is waar, sal ons hulle ook kan terug bring….? Wonder maar net…

Jaco ·

een teorie oor corona is dat dit uit itermago vleis op n mark in Wuhan gekom het.

Scalla ·

Na 50 jaar op die plaas het ek nou die aand twee gesien met 4 kleintjies in die veld, al ons natuurlike bronne word uitgewis en geplunder deur buitelanders vir soos hul glo , muti.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.