Uitgewer Nadia Goetham oorlede

Nadia Goetham (Foto: Nadia Goetham/Twitter)

Nadia Goetham (46), uitgewer by Jacana-uitgewers, is Sondagmiddag aan komplikasies weens Covid-19 oorlede.

Goetham het as ʼn joernalis by Beeld en News24 begin en het in ʼn stadium ook by Landbou Weekblad gewerk voor sy in 2015 by Jacana Media aangesluit het.

Die Goetham-familie het in ʼn kort verklaring gesê besonderhede oor haar roudiens en begrafnis sal binnekort bekendgemaak word.

Sy word oorleef deur haar broer Ian, skoonsuster Deidre en broerskinders Alex en India.

“Nadia het haar loopbaan in gedrukte joernalistiek begin en later het sy ook haar stempel afgedruk in die boek-uitgewersbedryf. Haar familie en vriende gaan haar baie mis. Haar afsterwe was vinnig en ontydig. Ons harte is gebreek,” lui die verklaring.

Boodskappe van medelye stroom in op sosiale media.

In kommentaar oor haar werk het sy gesê: “Niks klop die gevoel wat mens kry as wanneer mens sien hoe ʼn outeur, wie se werk vir die eerste keer gepubliseer word, se gesig ophelder as hulle hul boek vir die eerste keer sien en vashou nie. Ek het letterlik kans gehad om mense se drome waar te maak.”

Anroux Marais, die Wes-Kaapse LUR vir kulturele sake en sport, het gesê die Wes-Kaapse uitgewersbedryf betreur Goetham se afsterwe. “Sy het bekendgestaan as ʼn hardwerkende, passievolle uitgewer.”

Goetham, oorspronklik van die Paarl, was al van jongs af lief vir boeke.

“Sy was ʼn ware voorbeeld van iemand wat lief was vir die krag van boeke en lees en wat hard gewerk het om seker te maak outeurs kan hul woorde op papier kry om hoop en vreugde vir hul lesers te bring,” het Marais bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.