Uitgewer steun De Ruyter ná oud-Eskom-hoë met regsaksie dreig  

André de Ruyter. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Penguin Random House het sy onomwonde steun aan André de Ruyter, voormalige hoof van Eskom, toegesê nadat die uitgewer ʼn prokureursbrief ontvang het oor uitlatings wat teen ʼn voormalige Eskom-hoë in De Ruyter se boek gemaak word.

Penguin Random House is die uitgewer van De Ruyter se boek, Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, wat in Mei vanjaar gepubliseer is. De Ruyter maak plofbare bewerings oor grootskaalse korrupsie by Eskom in die boek.

Regsverteenwoordigers van Solly Tshitangano, voormalige verkrygingshoof van Eskom, het ʼn regsbrief aan die uitgewer gestuur en dreig met regsaksie oor inligting in die boek wat oor Tshitangano gaan.

Volgens Penguin Random House is De Ruyter se boek verantwoordelik geskryf en deeglik deur hul  regspan nagegaan. “Ons glo dat die boek die openbare belang dien, aangesien alle Suid-Afrikaners die reg het om die waarheid te weet oor hoe Eskom bestuur is.

“Tshitangano se prokureurs beweer dat hy ʼn ‘goedgegronde reputasie het vir sy professionaliteit, ywer, pligsgetrouheid en eerlikheid’ en dat die boek ‘sy reputasie beskadig en sy goeie naam, waardigheid en professionele integriteit nadelig beïnvloed het’.

Andre de Ruyter se boek. (Foto: Maroela Media/Tania Heyns)

“Dit klink egter hol in die lig van die openbare rekord rakende Tshitangano se optrede by Eskom en sy uiteindelike afdanking op ernstige aanklagte van wangedrag. Ons prokureurs reageer op Tshitangano se eise en enige regstappe teen Penguin Random House en De Ruyter sal teengestaan word.

“Ons sou ons plig as uitgewer versuim as ons toelaat dat regsdreigemente van hierdie aard ons intimideer om inligting te publiseer wat in die openbare belang is.”

Tshitangano dring daarop aan dat inligting oor hom teruggetrek word en dat hy ʼn verskoning aangebied word en hy dreig met regsaksie vir skadevergoeding indien dit nie gebeur nie.

Eskom se raad het in April 2021 met ʼn onafhanklike ondersoek begin teen De Ruyter nadat Tshitangano hom van magsmisbruik, swak bestuur, onreëlmatige aanstellings en onwettige verkryging beskuldig het. Twee maande later het die raad gesê die bewerings van rassisme teen De Ruyter is “snert” en dat daar nie plek vir die misbruik van die “raskaart” by Eskom is nie. Daar is bevind daar is geen gronde vir enige van dié aantygings teen De Ruyter gevind nie.

Tshitangano is in Februarie 2021 geskors op grond van wangedrag, skending van pligte en verantwoordelikhede, asook wanprestasie. Hy is in Mei 2021 afgedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.