Uitheemse indringerspesies al groter bedreiging – studie

Die harlekynliewenheersbesie (Foto: Verskaf)

Uitheemse indringerspesies neem wêreldwyd al vinniger toe en word tans as een van die vyf belangrikste bedreigings vir biodiversiteit en ekostelsels wêreldwyd gereken. Tog beskou slegs ’n handjie vol lande biosekerheidsmaatreëls as prioriteit.

Só waarsku ’n span internasionale navorsers, waaronder een Suid-Afrikaner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), in ’n nuwe oorsig van omgewingsveranderinge wat wêreldwyd aan uitheemse indringerspesies toegeskryf kan word. Dié oorsig is Vrydag in die vaktydskrif Biological Reviews gepubliseer.

Uitheemse spesies sluit in plante, diere en mikrobes wat per ongeluk of doelbewus deur mense in gebiede ingebring word waar dit nie natuurlik voorkom nie. Dié spesies is soms so gevaarlik dat dit giftig vir diere is en mense se gesondheid benadeel.

Die span navorsers van 13 lande reg oor Afrika, Asië, Australasië, Europa, Noord- en Suid-Amerika, verduidelik in die oorsig dat die aantal uitheemse indringerspesies al vinniger toeneem, met meer as 18 000 tans wêreldwyd gelys.

“Namate ons meer oor indringer- uitheemse spesies te wete kom, word die probleme wat met biologiese indringing geassosieer word al hoe duideliker. Die bedreiging wat indringerspesies vir ons omgewings, ons ekonomieë en ons gesondheid inhou, is baie ernstig en word al hoe erger. Beleidmakers en die publiek moet optrede om indringingplante en hulle impak teen te werk, prioritiseer,” meen prof. Petr Pyšek van die Tsjeggiese Akademie vir Wetenskappe en die Charles-Universiteit in Praag.

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Volgens prof. David Richardson, direkteur van die sentrum vir indringerbiologie (SIB) aan die US en een van die hoofouteurs van die oorsig, is daar tans 1 422 indringerspesies in Suid-Afrika gelys wat genaturaliseer is of indringers geword het.

Hy verduidelik in ’n verklaring dat sommige van dié indringerspesies ’n negatiewe impak op Suid-Afrikaanse ekostelsels het, onder andere “dorstige” uitheemse boomspesies wat groot hoeveelhede water uit opvangsgebiede onttrek.

Uitheemse indringerspesies in SA

Voorbeelde van indringerspesies wat ’n negatiewe impak op tuisbodem het, sluit in die demoinabossie, het Richardson verduidelik. Dié bossie is inheems aan dele van Sentraal- en Suid-Amerika en versprei vinnig. Dit is giftig vir wilde diere en vee en veroorsaak ’n verskeidenheid gesondheidsprobleme by mense.

Volgens Richardson veroorsaak die harlekynliewenheersbesie, ’n indringerspesie inheems aan Asië, op sy beurt skade aan ekostelsels deur die verkleining van inheemse liewenheersbesiebevolkings. “Hulle is ook ’n groot ergernis wat ekonomiese verliese veroorsaak deurdat hulle wyn bederf met hul bitter sekresies en skade aanrig aan vrugte-oeste,” het Richardson gesê.

Die indringing van denne in die berge van Suid-Afrika se Kaapse Blommeryk veroorsaak weer ’n drastiese afname in stroomvloei vanaf wateropvangsgebiede.

Wyse van verspreiding

Luidens die verklaring skryf die span navorsers die toename in biologiese indringers toe aan die toename in die aantal en verskeidenheid maniere waarvolgens spesies versprei, asook die toenemende volumes verkeer wat met hierdie maniere geassosieer word. Die verskeidenheid maniere van verspreiding sluit in die aanlyn handel in ongewone troeteldiere en plante vir tuinbou. Party spesies word selfs op stukkies plastiekrommel oor oseane vervoer.

Die studie toon verder hoe ander drywers van globale verandering soos klimaatsverandering en die verandering in hoe en waarvoor grond gebruik word, tesame met internasionale handel besig is om die impak van biologiese indringing te vererger.

Dit beteken dat spesies wat deur middel van skepe vervoer word in nuwe streke floreer as gevolg van klimaatsverwarming. Die permanente opening van die Arktiese Oseaan weens globale verwarming, stel mariene spesies ook nou in staat om tussen die Atlantiese en Stille Oseane te beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vlekkie ·

Ja jong! Vandat Chinese burgerskap gekry het het allerhande goggas ons land betrek!

NetM ·

Ek wens regtig die wereld wil meer ag slaan op hierdie probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.