Uitkoms vir Delportshoop-skool

Die skoolsaal by Delportshoop. Foto: Verskaf.

Skoolaktiwiteite sal na verwagting van Maandag af normaalweg voortgaan by die Gekombineerde Hoërskool Delportshoop en die Dikgatlong Secondary School in die Noord-Kaap ná albei skole vroeër vandeesweek gesluit was.

Gekombineerde Hoërskool Delportshoop huisves leerders van gr. 1 tot gr. 12. Maroela Media het vroeër berig leerders van Dikgatlong het in Januarie by Delportshoop opgedaag, klasse aan die brand gesteek en na bewering ʼn swanger onderwyseres rondgepluk. ʼn Video is ook op sosiale media versprei van ʼn gr. 2-leerder wat sê sy is bang om terug te gaan skool toe nadat ʼn klip haar teen haar been getref het gedurende dié geweld.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van onderwys, het destyds aan Maroela Media verduidelik die betoging het gespruit uit ʼn misverstand tussen die skool en die betogers.

“Die departement skuif die afgelope sewe jaar [Afrikaanse] matriekleerders van Dikgatlong na Delportshoop weens die klein aantal Afrikaanse leerders by Dikgatlong. Dit was meer lewensvatbaar vir die departement om die leerders by Delportshoop in te neem waar daar vir hulle plek is,” het Van der Merwe gesê.

Volgens hom het die hoof van Dikgatlong die nuus dat die 22 matriekleerders na Delportshoop geskuif mag word aan die leerders oorgedra. Dié nuus het egter skynbaar nooit die ouers bereik nie. “Daarom sê ons dié oproer was ʼn misverstand.”

Daar was Maandag weer onenigheid by Delportshoop toe die departement voorgestel het dat al Dikgatlong se Afrikaanse gr. 9 tot gr. 12-leerders na Delportshoop oorgeplaas word. Dit is sowat 107 leerders. Die departement het intussen van plan verander.

Volgens hom het die departement ʼn lys van eise van die skool en ouers ontvang wat meld dat hulle sal instem om plek aan die leerders te bied mits daar aan hulle eise voldoen word. Dié eise sluit die opgradering van die badkamergeriewe, ʼn veiligheidsheining asook ekstra onderwysers in.

“Ons gaan gehoor gee aan hierdie eise. Dinge soos die badkamers en die heining is net goed wat op tender moet uitgaan, ons gaan dit nie dadelik kan doen nie. Daar sal vir 2018 voldoende onderwysers by albei skole aangestel word om die kurrikulum aan te bied,” het Van der Merwe gesê.

ʼn Onderwyser by Delportshoop, wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê onderwysers by dié skool het Dinsdag en Woensdag ʼn sitstaking gehou. “Ons is nou vandag by die skool maar nie die kinders nie. Die kinders was Maandag laas hier.”

Van der Merwe het gesê Delportshoop was Donderdag en Vrydag gesluit, maar dat alles weer Maandag na normaal sal terugkeer. Dikgatlong is ook sedert Maandag gesluit.

Die departement het volgens hom verlede jaar vier ekstra onderwysers aangestel, maar dit vanjaar nie weer gedoen nie.

Van der Merwe het wel gesê die departement werk hard aan ʼn langtermyn-oplossing sodat dieselfde situasie in die toekoms vermy kan word.

Maroela Media verneem dat geen leerders dié jaar van Dikgatlong na Delportshoop oorgeplaas gaan word nie.

Die onderwyser het gesê die distriksdirekteur van die departement en twee afgevaardigdes het die onderwysers 12:00 Vrydag kom toespreek.

“Dit waarvoor ons al agt jaar lank baklei, het vandag gebeur. Hulle het gesê hulle gaan sewe of agt Afrikaanse onderwysers by Dikgatlong aanstel en die kinders sal daar klasloop. Niemand sal dus oorgeplaas word nie. Ons is ongelooflik bly! Dit beteken dit gaan nie ʼn invloed hê op ons slaagsyfer of die werk wat ons gedoen gaan kry nie. Hulle het ook gehoor gegee aan ons versoeke vir ablusiegeriewe en heinings,” het hy gesê.

Volgens hom het die hoof van die departement besef hulle kan nie die leerders by Delportshoop plek bied nie, want daar is eenvoudig te veel leerders by die skool en die verhouding van die getal onderwysers teenoor die getal leerders is te hoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MH ·

‘n “Misverstand” is geen verskoning vir barbaarse optrede nie.

aneja ·

Dit ruim nou glad nie met die geval by Overvaal in Vereeniging nie waar hul 55 engelse kinders wou plaas in ‘n afrikaanse skool wat NIE ingerig was of plek het nie. Hier vat hulle 22 afrikaanse gr 12 leerlinge na ‘n ander skool toe omdat dit kamma meer lewensvatbaar is. Ek neem aan die leerlinge het hul skoolloopbaan daar voltooi maar moet vir gr12 geskuif word. Belaglik en 22 kinders is nie te min vir ‘n klas nie. In Vereeniging wou hul 55 engelse kinders in die skool in dwing wat alreeds plasings in ander engelseskole gekry het. Daar was nie klasse of onderwysers ens vir daardie engelse kinders nie maar hulle MOET in ‘n afrikaanse skool geplaas word. Wat is verkeerd met ons samelewing!!!!!

PJC ·

Een of ander tyd gaan hierdie “misverstande” nog tot ander misverstande en groot probleme lei. Geweld kan maklik ontplof in nog groter geweld.

FM ·

Praat met daardie hardekwas politiesgedrewe lesufi van gauteng. Hy is seker n eff en zumakader. Hy haat die AFRIKAANSSPREKENDE blanke. Lesufi moet eerder skole bou. Maar nee, hy wil n funksionele skool disfunksioneel maak. Sal hy so uit sy pad gaan om 55 Afrikaanse leerders by n oorvol Engelse skool te plaas. NEE. Punt

Irene ·

As ek die onderwysers is sal ek nie een terug gaan nie laat die skool kinders hul self leer kry vir jul a ordentlike plek om te werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.