Stanford Hatidani (39) is in die Kuruman-streekhof skuldig bevind 10 jaar tronkstraf opgelê in verband met die handeldryf in beskermde plante.
Dit volg ná die polisie in Kuruman in die Noord-Kaap in Junie 2022 inligting ontvang het oor drie uitlanders wat met beskermde plante betrap is sonder die nodige permitte, sê lt. Tebogo Thebe, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).
ʼn Ondersoek is van stapel gestuur en die drie verdagtes is in hegtenis geneem. Hulle is betrap met beskermde plante, waaronder Asteraceae (madeliefie- en distelfamilie) en Tylecodon wallichii (krimpsiekkandelaar) met ʼn geraamde straatwaarde van R446 500.
Twee ander beskuldigdes, Silence Chane (44) en Blessing Chane (23), het skuld beken op alle aanklagte.
Silence is gevonnis om ʼn boete van R10 000 te betaal. Versuim sal hom vyf jaar tronkstraf op die hals haal. Blessing is ʼn boete van R1 000 of tronkstraf van 12 maande opgelê. Albei is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.
“Hatidani het gekies om nie te pleit nie en met sy hofsaak voort te gaan. Die Kuruman-streekhof het hom Donderdag skuldig bevind op alle aanklagte. Hy is 10 jaar tronkstraf opgelê. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.”