Uitlanders se winkels staan verlate in Soweto

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Verskeie uitlanders se winkels het Saterdag verlate gestaan ná ʼn week van geweld en plundery in Soweto, Johannesburg.

Daar is rommel in die strate en die geplunderde winkels staan leeg. Talle vensters is ook gebreek. Winkels in Dobsonville, Meadowlands en Mofolo-Noord is gesluit.

In sommige van die leë winkels lê leë bottels, bokse, lakens, kussings en klere.

Die onrus het Maandag begin toe die 14-jarige Siphiwe Mahori deur ʼn Somaliër doodgeskiet is toe hy en sy vriende by die man se winkel in Snake Park wou inbreek. Die winkeleienaar, Senosi Yusuf, sal na verwagting Maandag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

In nog ʼn voorval, is Nhlanhla Monareng (19) Woensdag in Naledi geskiet en hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Volgens berigte is hy geskiet toe die polisie op ʼn skare voor ʼn Pakistani se winkel losgebrand het. Hy was ʼn omstander.

ʼn Groep Somaliërs het Saterdag buite ʼn geslote winkel in Mashaba, Dobsonville gestaan. Hulle het kom ondersoek instel nadat hulle Woensdagaand uit die gebied gevlug het. Hulle het Donderdag saam met metropolisiebeamptes teruggekeer om die oorblywende voorraad uit hul winkels te haal, maar alles was reeds weg. ʼn Kluis is oopgebreek en het daar naby gelê.

In nog ʼn winkel, in dieselfde gebied, was kinders in ʼn winkel wat ook geplunder is.

ʼn Winkel wat deur Bangladesjers besit is, is Donderdag geplunder en die winkel staan steeds leeg. Die winkel is in ʼn gebou wat aan ʼn Suid-Afrikaner behoort. Die eienaar se seun, Bongani Nyathi, het gesê die plaaslike inwoners weet die winkel behoort aan ʼn Suid-Afrikaner, maar hulle het steeds op die winkel toegeslaan.

David Makhura, premier van Gauteng, het Saterdag honderde buitelandse winkeleienaars in Mayfair toegespreek, het Eyewitness News berig. “Die plaaslike inwoners sê hulle het groot voordeel getrek uit julle, so julle is ʼn bate vir ons gemeenskappe,” het hy gesê. “Julle voeg waarde toe tot ons ekonomie, deel sake-idees met plaaslike besigheidseienaars en julle kan van mekaar leer. Ons beskerm eerlike mense. Werk saam met ons sodat ons julle kan beskerm.”

Makhura het oorlewingspakkies aan die eienaars oorhandig. Talle van die eienaars het alles verloor ná gewelddadige aanvalle op hul winkels tydens die afgelope week. Hy het hulle gemaan om nie vuurwapens te koop of die wet te verbreek nie. “Die regering werk aan ʼn volhoubare oplossing sodat julle weer in die gemeenskap opgeneem kan word.”

Minstens drie persone is dood en 162 is in hegtenis geneem sedert die onrus begin het. The Star het berig Dan Mokwena (74) van Malawi is Woensdagoggend ook aangeval en in sy winkel doodgemaak.

Lt.genl. Lesetja Mothiba, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die plundery het intussen na Diepsloot en Kagiso aan die Wes-Rand uitgebrei. ʼn 61-jarige omstander is Donderdagaand in Swaneville doodgeskiet toe ʼn uitlander op ʼn skare buite sy winkel losgebrand het. ʼn Man is Donderdag in Tshepisong gewond toe hy by ʼn uitlander se spazawinkel wou inbreek.

Lees alle vorige berigte oor Soweto op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Asjas ·

Scalla, ek stem saam. Dit is die eerste probleem maar, het die lot al begin wonder waar kom hulle volgende brood en melk vandaan noudat al die Spaza Shops in Soweto toe is?
Ek verstaan Taxi’s na die naaste Dorp is maar aan die duur kant. En wat van mense wat nie die Taxi geld kan bekostig nie, ou mense, mense met klein kindertjies wat nie te ver van die huis af wil gaan nie?? Kan die mense nie logies dink voor hulle in massas opgesweep raak nie? Die voorraad wat hulle geplunder het gaan nie verewig hou nie.

J.Z ·

Scalla dink n bietjie verder as jou neus,Vra jou self af wie die mense aangemoedig het en die grense oop gemaak het en as jy vasgestel het hoop ek jy nooit weer ANC stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.