Uitsettingsbevel teen Mpumalanga-boere voorlopig opgehef

(Argieffoto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die groep opkomende boere van die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga is verlig en dankbaar nadat die afsettingsbevele teen hulle teruggetrek is. Dit volg ná Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, boere Saterdag besoek het en glo erken het dat daar in die provinsiale departement duidelike tekens van korrupsie met betrekking tot beplande uitsettings was.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, sê Didiza het gesê hierdie boere mag nou op hul plase aanbly en het ook beloof dat hul 30 jaar lange huurooreenkomste voor einde Junie afgehandel sal word. Dit is juis ʼn gebrek aan langtermynhuurinkomste wat boere die afgelope jare moedeloos het.

Maroela Media het vroeër berig die groep boere het sedert verlede jaar afsettingsbevele van die departement ontvang om so gou moontlik hul plase te verlaat. Al hierdie boere het tussen 2009 en 2011 op hul onderskeie staatsplase begin boer. Ná vyf jaar het boere vir ʼn huurooreenkoms van 30 jaar aansoek gedoen en dit is aan die meeste van hulle toegestaan.

Die departement het egter geweier om huurooreenkomste te hernu. Van hierdie boere sit nou al vier jaar sonder ʼn huurooreenkoms, waarsonder hulle nie vir lenings by finansiële instellings aansoek kan doen nie. Hulle ontvang ook nie finansiële steun van die regering nie en trek noustrop terwyl hulle probeer om plase sonder enige alternatiewe inkomste aan die gang te hou.

“Didiza het aan die boere erken dat daar in die proses van die plaasuitsettings korrup opgetree is,” sê Steyn aan Maroela Media.

Van links: Thabani Nxumalo, Isaac Buphelezi, Mr Motha, Isaac Muvhali, Jabulani Nkosi, Tshilidzi Netsianda, Sibusiso Parrparirinyntwn en John Mabaso (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Steyn sê Didiza het tydens Saterdag se vergadering ook gesê dat die departement se nasionale kantoor in die volgende twee weke ʼn ondersoek gaan uitvoer om vas te stel waar die korrupsie plaasgevind het. Die departement het ook beloof om elkeen van hierdie boere individueel te besoek en hul stories aan te hoor.

Thabani Nxumalo van die plaas Klipplaatdrift in die Ermelo-omgewing sê hy is baie dankbaar dat die afsettingsbevel teen hom teruggetrek is. Hy sê hy is ook positief daaroor dat boere nou eindelik hul lank beloofde huurooreenkomste gaan ontvang.

“Van ons boere veg al lank vir hierdie ooreenkomste. Ons het sedertdien herhaaldelik na die departement probeer uitreik en gevra dat hulle ons moet kom spreek. Dit is sleg dat hulle ná twee jaar eers hier opdaag,” sê Nxumalo.

Isaac Muvhali, wat al sedert 2009 op die plaas Tweefontein boer, sê hy is ook bly dat die afsettingsbevel teruggetrek is, maar nog ietwat skepties oor die huurooreenkomste wat aan hulle beloof is.

“Ek sal eers rus vir my siel kry as die huurkontrak voor my lê,” sê Muvhali. “Maar intussen bring die minister se besoek verligting en ons kan weer vorentoe kyk en planne vir die toekoms maak.”

Steyn sê Didiza se besoek aan die boere en haar erkenning van korrupsie is ʼn stap in die regte rigting. “Hoewel sy nou talle beloftes aan die boere maak, beteken dit egter niks as die amptenare in haar provinsiale departement hul korrupte gedrag voortsit nie.”

Steyn sê sy gaan aan die minister skryf oor die vele ander boere landwyd wat steeds op die punt is om hul boerderye te verloor nadat hulle ook afsettingsbevele ontvang het. Sy gaan voorts die minister vra om ʼn lys met al die staatsplase in die land en presies wie daarop boer, bekend te stel. Sy wil ook ʼn lys hê van die boere wat reeds ʼn huurooreenkoms van 30 jaar ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos10 ·

Boere, wag maar eers om te sien of die minister haar woord gaan hou. Onthou net dat sy môre vervang kan word en dat haar opvolger niks van weet nie OF dat haar geheue haar oor ses maande in die steek laat.

Saartjievandiebosveld ·

Sou die huurooreenkoms voor julle lê….loop dan maar lig vir plaas aanvalle….

Dup ·

Waarom KRY sekere mense grond en behuising gratis en verniet en andere moet dit koop en BETAAL?

Pampoen ·

Een van die beste maniere om te kyk of iemand ekonomies vatbaar boer, is om te kyk hoeveel inkomste belasting hy betaal. As dit niks is nie, dan kan iemand anders eerder probeer ‘n bydrae lewer. Hoeveel van die mense betaal beduidende belasting?

Fedup ·

Corruption?
How shocking.
And anyone will take tokolosys word, why?

H ·

ek wil ook graag begin boer met dieselfde voordele , waar kan ek aansoek doen ???

Barrie ·

B die naaste mafia kantoor met n Zuma calculator in jou hand

Johan ·

Kan ons dalk eerder verwys na Lanbouers as Boere? En as hul nou eendag “opgekom” het, gaan hul Boere wees of Landbouers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.