Uitslae van dié vakke wek kommer

(Foto: Maroela Media)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) is bekommerd oor die lae slaagsyfer vir vakke soos lewenswetenskappe, tegniese wiskunde en geografie, waarvoor bitter min leerders onderskeidings in die afgelope matriekeksamen behaal het.

Afrikaanse skole het oudergewoonte – en ondanks die groot ontwrigting wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het – uitstekend gevaar in die pas afgelope Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS). Tóg sê die SOS daar is rede tot kommer oor sekere vakke waarin Afrikaanse skole swakker as gewoonlik gevaar het.

Die SOS het Dinsdag sy jaarlikse matriekverslag oor die eksamenuitslae bekend gestel.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê die instelling gaan ʼn versoek aan die departement van basiese onderwys rig om ʼn amptelike ondersoek na die vakke te doen waarin prestasie verswak het.

Lewenswetenskappe

Vermeulen sê in lewenswetenskappe was die gemiddelde slaagsyfer by Afrikaanse skole selfs laer as die nasionale gemiddeld – iets wat volgens hom nog nooit tevore gebeur het nie. Die vak het verlede jaar uitgestaan as ʼn sogenaamde probleemvak, met 50% van Afrikaanse kandidate wat minder as 40% behaal het.

Die grootste getal kandidate wat dié vak geneem het, het boonop net die minimum slaagsyfer behaal.

Slegs 2% van kandidate landwyd het onderskeidings in lewenswetenskappe behaal en dit was ook een van die vakke waarvan Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, die punte opwaarts aangepas het.

Tegniese wiskunde

Die nasionale slaagsyfer vir tegniese wiskunde was maar 32,4% en Vermeulen sê dit laat baie vrae ontstaan oor die bestaansrede vir die vak. Slegs 0,1% van die kandidate het meer as 80% in dié vak.

Volgens die SOS was die standaard van die vraestelle vir tegniese wiskunde verlede jaar onbillik hoog en talle skoolhoofde het aangedui dat die vak ’n probleemterrein is.

Vermeulen sê die SOS meen dat die inhoud van die vak nie ooreenstem met die oorspronklike bestaansrede van die vak nie, te wete groter toeganklikheid deur minder abstraktheid van die vak te bied.

Luidens die verslag is die verspreiding tussen wiskunde, wiskundige geletterdheid en tegniese wiskunde steeds sterk in die guns van wiskundige geletterdheid, met 58% van kandidate wat hierdie vak neem.

Die slaagsyfer van wiskundige geletterdheid was baie hoog op 80,8%, teenoor die 53,8% wat wiskunde geslaag het. Net 1,7% van leerders het onderskeidings vir tegniese wiskunde behaal en 3,2% het onderskeidings vir wiskunde gehad.

Geografie

Vermeulen sê die SOS is ook bekommerd oor die prestasie van Afrikaanse leerders in geografie. Afrikaanse skole was oor die algemeen glad nie tevrede met hul vakgemiddeld daarvoor nie.

Hy sê in sommige gevalle was skole se opstuurpunte tot 10% hoër as die uiteindelike uitslae – en ʼn skamele 1% van kandidate kon ʼn onderskeiding in die vak behaal. Vermeulen het dié verskynsel as abnormaal bestempel.

Volgens Vermeulen het sommige kandidate onderskeidings in al hul vakke buiten geografie behaal – ʼn neiging wat reeds geruime tyd voortduur.

Die SOS sê vantevore het Afrikaanse kandidate gesukkel met geografie-vraestelle se swak taalgebruik, maar verlede jaar was daar ʼn duidelike verbetering. Die grootste probleem was onduidelike sketse in die teorie-vraestel.

Die instelling sê daar was die afgelope paar jaar ʼn afname in die getal onderskeidings wat leerders in die vak verwerf, terwyl daar sedert 2018 ʼn toename is in die getal kandidate wat die vak neem.

Vermeulen sê soms word geografie tydens vakkeusegroepering teenoor ʼn vak soos toerisme geplaas.

“Leerders migreer dan vanaf graad 10 na toerisme om ʼn hoër persentasiepunt in die eksamen te behaal – hulle het ʼn beter kans om ʼn onderskeiding te behaal. Dit is na ons mening verkeerd en neig tot eksamengerigtheid, eerder as die toekomsgereedheid wat ons aanbeveel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Wat van Fisiese Wetenskappe? Sover ek verstaan het hordes kinders laat hermerk!

Cobie ·

Ons skool se Geografie leerders se finale punt verkil by al die leerders met 25+% van hul opstuurpunt.

Vernon ·

Ek dink as die Dept regtig die VOLLE waarheid oor alle vakke en oor top leerlinge sou bekend maak,sal die kranse antwoord gee en sal ons nie kan glo wat dalk aan die gang is nie! Onthou die ANC is onder geweldige druk om goed te presteer…so hulle gaan alles probeer om goed te lyk! Die feit dat Afr skole so goed doen,gaan nie lekker af by hulle nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.