Uitslae van Steinhoff-ondersoek nie nou al bekend

Argieffoto: ANA

Steinhoff het Donderdag bevestig die ondersoek wat deur die ouditfirma PwC gedoen word na verlede jaar se rekenkundige skandaal by die maatskappy is aansienlik ver gevorder, maar nog tyd word benodig om sommige kwessies te finaliseer.

Steinhoff steier steeds onder die gevolge nadat die maatskappy erken het dat daar ʼn jaar gelede rekenkundige onreëlmatighede by die maatskappy plaasgevind het. Dié skandaal het daartoe gelei dat Markus Jooste, die maatskappy se uitvoerende hoof, vinnig onder ʼn donker wolk bedank het.

Behalwe vir die forensiese ondersoek wat tans aan die gang is, het die maatskappy terselfdertyd ʼn finansiële herstruktureringsproses van stapel gestuur waarby ʼn diverse groep van finansiële krediteure betrokke is, terwyl sy internasionale bedrywighede in meer as 30 lande steeds aan die gang gehou word.

“Die forensiese ondersoek wat deur PwC gedoen word, vorder goed. Die ondersoekproses was tot dusver aansienlik meer ingewikkeld as wat aanvanklik verwag is, met verskeie werkspanne wat oor ʼn hele aantal jurisdiksies werk,” het Steinhoff gesê.

“Die ondersoek is wesenlik voltooi, maar nog tyd is nodig om ʼn aantal opvolgkwessies te finaliseer. Die ondersoek sal na verwagting teen einde Februarie 2019 voltooi wees en die finale verslag sal kort daarna beskikbaar wees.”

Steinhoff sê die volle implikasies van die samevattende bevindings van die PwC-verslag oor die groep se 2017- en 2018-finansiële state word nog geanaliseer om te verseker dat die korrekte rekeningkundige bevindings en verwante openbaarmakings aanvaar is.

“Ondanks aansienlike pogings deur al die betrokke partye is dit ongelukkig nou duidelik dat die tydlyn vir die voltooiing van die groep gekonsolideerde finansiële verslagdoening en ouditproses geskuif het en dit sal nie moontlik wees om al die werk wat gedoen moet word te finaliseer binne die oorspronklike tydsraamwerk nie.”

Steinhoff meen hy sal in staat wees om teen middel April 2019 sy groep geouditeerde finansiële state van 2017 en 2018 te publiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.