Uitslag van Covid-19-toets in Noordwes bekend

Argieffoto ter illustrasie

’n Vrou wat onlangs in ’n hospitaal in Klerksdorp in Noordwes opgeneem is weens die vermoede dat sy met die nuwe koronavirus, oftewel Covid-19 besmet is, het negatief vir die gevreesde virus getoets.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê die vrou is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het reeds vroeër vandeesweek aangekondig dat ’n moontlike geval van Covid-19 in Noordwes negatief vir die virus getoets het. Die minister het verduidelik dat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) wel nog toetse sou doen.

Die vrou is na ’n hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas nadat sy aanvanklik in die Joe Morolong-gedenkhospitaal in Vryburg opgeneem is.

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, het intussen vir kalmte in dié provinsie gevra. “Die mense van Noordwes kan gerus voel dat daar geen bevestigde geval van koronavirus in die provinsie aangemeld is nie.”

Die LUR het mense gewaarsku om nie hul ore uit te leen aan fopnuus of hoorsê rakende Covid-19 nie. “Alle toetse van moontlike Covid-19-gevalle word deur die NCID uitgevoer en die minister kondig aan of dit positief of negatief is. Ek doen ʼn beroep op ons mense om altyd te wag vir amptelike kommunikasie van die departement voordat hulle onnodig openbare paniek veroorsaak,” sê Sambatha.

Twee mense loop Dinsdag in ‘n leë Rome. (Foto: Andrew Medichini, AP)

Ander lande

Nadine Dorries, die Verenigde Koninkryk (VK) se minister van gesondheid, het positief vir Covid-19 getoets. Dorries (62) is tans tuis onder kwarantyn. Sy is nou bekommerd oor haar 84-jarige ma wat saam met haar woon en Dinsdag begin hoes het.

Dit is nie bekend hoeveel vergaderings Dorries die afgelope dae by Westminster of in haar kiesafdeling bygewoon het nie. Altesaam 382 bevestigde gevalle van die virus en ses sterftes is in dié stadium in die VK aangemeld.

In Italië is alle bedrywighede opgeskort weens die gevreesde virus. Alle openbare vervoer, skole, winkels, teaters, restaurante en museums is in dié stadium gesluit nadat meer as 10 000 bevestigde gevalle van die virus in dié land aangemeld is. Meer as 600 sterftes is hiér aangemeld.

Covid-19 is teen Dinsdagmiddag in 110 lande met 113 851 bevestigde gevalle aangemeld. Meer as 4 000 mense het reeds weens Covid-19 omgekom.

Teen Woensdagoggend het die getal bevestigde gevalle na 115 800 opgeskiet.

Lande wat die meeste geraak word, sluit in:

(Gevalle: Sterftes)

China (80 778:3 158)

Italië (10 149:631)

Iran (8 042:291)

Suid-Korea (7 755:60)

Duitsland (1 296:2)

Japan (1 264: 19)

Spanje (1 204:28)

Frankryk (1 116:30)

Amerika (1 000:31)

Verenigde Koninkryk (382:6)

Nederland (382:4)

 

Bronne: ANA, CNN, BBC, WHO

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nell ·

Ek wil allermins onsensitief oorkom, maar ek dink die vrees vir ‘n virus is soms ‘n erger en meer aansteeklike virus as die virus self!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.