Uitslag van Gauteng-skoolplasings dan beskikbaar

skool-21.jpeg

Argieffoto

Die departement van onderwys in Gauteng het Dinsdag gesê plasings vir leerders in graad 1 en graad 8 waarvoor daar aanlyn aansoek gedoen is, sal van die begin van Augustus af beskikbaar wees.

Ouers wat tydens die aansoekperiode (16 April 2018 – 28 Mei 2018) aansoek gedoen het vir hul kinders wat volgende jaar in graad 1 of graad 8 is, sal die inligting van 3 Augustus 2018 begin ontvang. “Alle ouers sal ʼn SMS ontvang met die uitslag van hul aansoek.”

Die departement het ʼn ongekende getal aansoeke ontvang vir leerders wat in 2019 met graad 1 en graad 8 begin. “Teen die einde van die aansoekperiode is altesaam 569 302 aansoeke ontvang. Nog meer tyd is nodig om die waglyste by die skole en in die distrikte af te handel.”

Die departement het gesê ouers kan ook die webwerf www.gdeadmissions.gov.za aanlyn besoek om die status van hul aansoek na te gaan, of hulle kan 0800 000 789 skakel of die naaste distrikskantoor of openbare skool besoek vir enige aansoekverwante sake.

“As ʼn ouer hul intekenbesonderhede (gebruikernaam en wagwoord) verloor het, kan hulle ook die kontaksentrum kontak.”

Die departement maan ouers om die aanbod van plasing binne sewe werksdae te aanvaar. Versuim om die plasing binne dié tydperk te aanvaar, sal beteken dat die aanbod vir die volgende aansoeker op die skool se waglys gestuur sal word.

Ouers wat nie die vereiste dokumente binne die spertyd (16 April 2018 tot 5 Junie 2018) ingedien het nie, word versoek om die dokumente van Maandag, 10 September 2018, tot Vrydag, 14 September 2018, in te dien. Die departement het gesê dié aansoekers en alle leerders wat nie in skole geplaas is nie as gevolg van ʼn kapasiteitsprobleem, sal deur die distrikte geplaas word.

“Die departement is van voornemens om die plasing van alle graad 1- en graad 8-leerders vir die 2019 akademiese jaar teen 31 Oktober 2018 af te handel. Die departement is dankbaar vir die samewerking en ondersteuning wat die ouers gebied het,” het LUR Panyaza Lesufi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos1 ·

Wat het geword van die 18de Julie 2018 wanneer dit bekend gemaak sou word? Weereens ‘n super onbevoegde regering! Totaal onbevoeg!

WW ·

Maar wee jou as jy nie binne 7 dae spring om die “aanbod” te aanvaar nie!
Ongeag die druk in terme van beskikbare tyd wat op jou geplaas word as ekonomies produtiewe belastingbetalende werker.

Liezl ·

Ek kry aan gelog op hulle website nie. Het nou al paar dae probeer maar geen net heeltyd error.

Mareli ·

Ek dink nie jy gaan kan inlog tot en met 3 Augustus nie. Ek het ook probeer inlog vandag maar hy gee ook ‘n ‘error’ . Dink hulle moet nou eers al die aansoek deurgaan..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.