Uitslag van korona-toetse in Botswana bekend

‘n Pasiënt word by Zhongnan-hospitaal behandel (Foto: Xiong Qi/Xinhua via AP)

Die vyf pasiënte wat moontlik die koronavirus onder lede gehad het toe hulle Sondag by die Sir Seretse Khama- internasionale lughawe in Botswana aangekom het, is negatief vir die virus getoets.

Botswana se departement van gesondheid het vermoed dat dié vyf pasiënte moontlik met die koronavirus besmet is omdat hulle simptome soos koors, hoes, moegheid en kopseer gehad het toe hulle die land binnekom.

Die departement het Woensdag gesê ten spyte daarvan dat die toetse negatief wys, sal hul mediese span steeds die moontlike gevalle monitor. Hulle versoek die publiek om ten alle tye waaksaam te wees en die nodige voorsorgmaatreëls te tref, soos om goeie handhigiëne en hoes- of nies-etiket te handhaaf.

Die departement sal voortgaan om alle passasiers wat die land binnekom te toets. “Ons raai die publiek aan om vir eers reise na lande wat deur die virus geraak word, uit te stel.”

Maroela Media het vroeër berig Namibië se minister van gesondheid, Kalumbi Shangula, het bevestig dat ’n pasiënt in ’n hospitaal op Swakopmund moontlik die virus onder lede het. Hulle kon dit egter nog nie bevestig nie.

Geen gevalle is tot dusver in Suid-Afrika aangemeld nie.

Luidens ’n BBC-berig, is die jongste slagoffer van die koronavirus Donderdagoggend aangemeld. ’n Chinese pasgebore baba is net 30 uur ná geboorte in ’n hospitaal in Wuhan in China met die virus gediagnoseer. Die baba is tans in ’n stabiele toestand en word gemonitor.

Die baba se ma is net voor die geboorte positief vir die virus getoets. Dit is steeds onduidelik hoe die virus oorgedra is.

Chinese owerhede het Woensdagaand bevestig dat ’n totaal van 28 018 gevalle van die koronavirus al aangemeld is, waarvan 563 pasiënte reeds dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

charmaine ·

Sjoe, hierdie virus is vreeslik soveel mens al dood in n kwessie van 2 weke.

Plaaskind ·

Ek kan nie help om die owerhede se eerlikheid rakende die siekte te wantrou nie – dis al in soveel lande en SA se vlugte na en van China word nie gestop nie. Ek persoonlik dink dit is al klaar in SA.

HBK ·

Sê ek ook, met almal wat deur OR Tambo kom, kan ek dit bloot net nie insien nie. Om nie eers van ons grensposte te praat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.