Die uitslag van die forensiese identifikasie oor die ontploffing by Rheinmetall Denel Munition (RDM)-aanleg in Somerset-Wes in die Wes-Kaap, sal later vandeesweek bekend gemaak word.
Die bestuur van RDM het Woensdag met die families vergader wat geraak is deur die ontploffing op 3 September 2018 waartydens agt werknemers oorlede is.
“Ons kan bevestig dat die uitslag van die forensiese identifikasie hierdie week afgehandel sal word en ons sal dan daardie inligting, nadat ons dit met die families bespreek het, vrystel,” het Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, in ʼn verklaring gesê.
Minister van openbare ondernemings Pravin Gordhan en die voorsitter van die Rheinmetall Group Armin Papperger, was ook teenwoordig tydens die gesprek om verdere ondersteuning te bied aan die families.
“Vandag se vergadering vorm deel van ʼn reeks gesprekke met die families, RDM-personeel en die groter gemeenskap.”