‘Uitsondering’ word nou soos ʼn ‘blanko tjek’ gebruik

William Mathebula, waarnemende hoof aanskaffingsbeampte by die nasionale tesourie (Foto: Karen Sandison/ANA)

Staatsamptenare misbruik die uitsondering vir tenders wat slegs tydens noodsituasies gebruik moet word, het die kommissie van ondersoek oor staatskaping Dinsdag gehoor.

William Mathebula, waarnemende hoof aanskaffingsbeampte by die nasionale tesourie, het gesê alhoewel die aanskaffingsprosesse voorsiening maak vir afwyking van die tenderproses onder sekere streng reëls, het dit daartoe gelei dat beamptes die stelsel misbruik en dit kos die staat honderde miljoene rande.

Mathebula het nie die skuldiges se name bekend gemaak nie.

“Mense het die afwyking begin gebruik omdat dit beskikbaar was in die aanskaffingsproses. Die drumpel was dat toestemming gekom moet word indien die kontrak meer as R1 miljoen is. Die afwyking was slegs vir noodsituasies. Sommige beamptes ken egter nie die verskil tussen dringend en ʼn noodgeval nie,” het hy gesê.

“Die afwyking het dus die norm geword. In plaas daarvan dat daar aan normale reëls voldoen is, het staatsinstansies die afwykingstelsel begin gebruik om beleide te omseil. Dit is waar ons ʼn groot uitdaging beleef. Dit is soos ʼn blanko tjek wat tot onbeplande gevolge gelei het.”

Hy het gesê ʼn opdrag is in 2016 uitgereik om misbruik te bekamp. Dié opdrag het bepaal dat enige tender, wat volgens die afwykingstender uitgereik word en dit nie ʼn noodgeval is nie, eers deur die betrokke tesourie (nasionaal of provinsiaal) goedgekeur moet word. “Die misbruik het egter voortgegaan.”

Leah Gcabashe, van die kommissie, wou by hom hoor wie rekord gehou het van die afwykingskontrakte.

“Die aanskaffingsbeamptes by die staatsinstansies het daarvan rekord gehou,” het Mathebula geantwoord. “Dit is ook openbaar gemaak. Dit is op ons webwerwe, waar mens duidelik kan sien watter entiteit aansoek gedoen het en wat dit gekos het. Ons verskaf dié inligting ook aan die parlement.”

Hy het gesê die stelsel is gebreke, tot só mate dat die tesourie aan ʼn wetsontwerp werk wat sal seker maak dat Suid-Afrika een aanskaffingsbeleid het wat van toepassing is op alle entiteite. Volgens hom sal die nuwe wetgewing meer mag gee aan die hoof- aanskaffingsbeampte en sal ook die probleem aanspreek van ʼn gebrek aan goeie regering by staatsdepartemente en staatsbeheerde ondernemings.

“Die regering spandeer R800 miljard aan goedere en dienste, soos jy vroeër gesê het. Hoe gaan jy seker maak dat die geld aangewend word waarvoor dit bedoel is?” wou Gcabashe weet.

“Dit is ʼn moeilike uitdaging,” het Mathebula geantwoord. “Dit is moeilik, want ons kan nie aanvoer dat al hierdie geld aangewend word waar dit veronderstel is [om aangewend te word] nie, en dit is hoekom ons tans met dié probleme in die land sukkel.” Hy het gesê sy departement maak aanbevelings aan die betrokke owerhede om stappe te doen teen beamptes wat die tenderstelsel omseil, maar bygevoeg die “menslike element” is ʼn probleem.

Nóg ʼn probleem wat deur die tesourie in die gesig gestaar word, is kontrakte wat verleng word en uiteindelik hoë koste vir die belastingbetaler beteken. Mathebula het gesê departemente sal byvoorbeeld ʼn driejaartender tot 12 jaar verleng, en nuwe maatskappye kry dus nie die geleentheid om die regering se aanskaffingsruimte te betree nie. “Ons kan dit nie toelaat nie, omdat dit ʼn hindernis is vir nuwe rolspelers. Dit lei ook tot anti-mededingende praktyke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

Afrikatyd ken nie die woord ‘noodgeval’, behalwe vir misbruik en eie gewin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.