Uitspraak begin in reuse bende-verhoor

Argieffoto

Argieffoto

Die hooggeregshof in die Wes-Kaap het hierdie week begin met die uitspraak in een van die gruwelikste kriminele sake in die hof se geskiedenis.

Ná ʼn verhoor van vier jaar, sal regter Chantal Fortuin oor die volgende twee of drie weke ʼn 800-bladsye uitspraak lewer in die saak teen die 28s-bendeleier George “Geweld” Thomas en sy 17 medebeskuldigdes.

Die beskuldigdes staan tereg op 19 aanklagte van moord, 27 aanklagte van poging tot moord, asook aanklagte van roof, rampokkery en die onwettige besit van vuurwapens. Hulle het aanvanklik tereg gestaan op 166 aanklagte, maar is intussen op 25 aanklagte vrygespreek.

Die saak se hofrekord staan reeds op ʼn allemintige 27 519 bladsye. Deur die verloop van die verhoor is 164 getuies deur die staat geroep, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.

Die groep is ook aangekla vir die moord op ses getuies wat gedurende die verhoor vermoor is. Ongeveer 12 getuies en hul families is in getuiebeskermingsprogramme en talle was vir ʼn tydperk onder polisiebewaking.

Die nommer-bendes (26s, 27s en 28s) het in die laat 1800s begin en het hul oorsprong in tronke en mynkampongs. Volgens die NVG was die 28s onder leierskap van Thomas in die gemeenskappe en hoofsaaklik in die Bishop Lavis-woonbuurt, hoogs georganiseerd met ʼn “militaristiese struktuur en rangorde-sisteem”.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.