Uitspraak begin in Rob Packham-moordverhoor

Rob Packham in die hof. Foto: Courtney Africa/African News Agency(ANA)

Regter Elize Steyn het Maandag met uitspraak begin in die verhoor van Rob Packham wat van die moord op sy vrou aangekla word.

Gill Packham het op 22 Februarie verlede jaar, die dag waarop sy as vermis aangegee is, nie soos gewoonlik omstreeks 07:30 by die werk opgedaag nie. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-stasie gekry.

Steyn het in haar uitspraak na al die bewysstukke en getuienis verwys wat tydens die verhoor voor die hof gedien het. Sy het begin met die onbetwisbare feite soos dat Packham twee fone gehad het – een vir werk en een waarmee hy met sy minnares gekommunikeer het en waarvan sy vrou nie geweet het nie.

Oor die Packham-egpaar se verhouding het Steyn verwys na hul huweliksprobleme ten tyde van Gill se dood. Packham het toe reeds vir ʼn geruime tyd ʼn buite-egtelike verhouding gehad en die egpaar het huweliksberading ondergaan. Die aand voor sy vermis geraak het, het die egpaar geargumenteer.

Packham se selfoon was die oggend van sy vrou se verdwyning afgeskakel en hy eers toe hy dit weer aangesit het boodskappe gekry dat sy vrou nie vir werk opgedaag het nie en vermis word. Hy het haar twee keer probeer bel en het rond begin ry om haar te soek. Packham is na die skool waar sy vrou gewerk het. Hy was later ook in kontak met ʼn kollega en het hom glo gevra om te lieg oor waar hy hom bevind het op die dag wat sy vrou verdwyn het.

Steyn het ook na die getuienis wat tydens die verhoor gelewer is, verwys. Die egpaar se dogter, Nicola (26), het onder meer getuig sy het al ʼn paar jaar lank van haar pa se ontrouheid geweet nog voor haar ma in Oktober 2017 daarvan uitgevind het. Nicola het ook getuig oor die gebeure op die dag van haar ma se verdwyning. Sy het aanvanklik om 09:00 die oproep van die skool gehad en gesukkel om haar pa in die hande te kry tot later daardie oggend.

Paul Gray (76), ʼn buurtwagvrywilliger, het onder meer getuig dat hy Packham met sy vrou se motor sien rondry het op die dag wat sy verdwyn het. Volgens hom het die BMW nie voor of agter nommerplate gehad nie en het die manspersoon in die motor baie ontsteld gelyk. Packham is in April deur Gray tydens ʼn uitkenningsparade uitgewys. Nog ʼn ooggetuie het glo gesien hoe Packham in sy wit Audi van die toneel waar Gill se lyk gevind is, weggery het.

Tarryn Steed, wat vir ʼn maatskappy werk wat motors se nommerplate op kamera vasvang terwyl hulle ry, het getuig sy het op hul stelsel gesien dat die veiligheidskameras ʼn BMW sonder nommerplate vasgevang het by Boundary‑ en by Kendallweg.

“Die insittende het ʼn ligte of ligblou gholftrui aangehad. Dit was ʼn man. Hy was nogal groot gebou. Hy het ook ʼn bril op gehad.”

Rob en Gill Packham. Foto: Facebook

Steed sê sy het toe deur vorige rekords gegaan en ʼn foto van die voertuig gevind waar die nommerplate nog op was. Sy sê op die foto van die voertuig met die nommerplate het ʼn skraal vrou die motor bestuur. “Ek kon onmiddellik sien dit was ʼn ander bestuurder [as op die ander foto].”

Steyn het ook na Packham se getuienis verwys dat hy die oggend van sy vrou se verdwyning op pad was na motorhandelaars om vir haar ʼn nuwe motor te gaan soek. Hy het dit egter nie in sy eerste verklaring genoem nie.

Hy het na bewering twee dae ná Gill se dood ʼn boodskap aan getuie X (Packham se gewese minnares wat nie geïdentifiseer mag word nie) gestuur om te sê dat “die malligheid” amper verby is en dat hulle dan uiteindelik bymekaar kon wees. Packham het aan die hof gesê hy kan nie onthou dat hy dié boodskap gestuur het nie, maar het dit nie betwis nie.

Packham se motor is op 23 Februarie en toe weer in Augustus verlede jaar afgeneem. Toe die polisie in Augustus op dié motor beslag gelê het, was die buitebande na bewering vervang.

Volgens ’n deskundige stem die bandspore op die misdaadtoneel nié met die nuwe buitebande ooreen nie. Die deskundige het later wel bevind dat foto’s van die bandspore op die toneel tog dieselfde kan wees as dié wat op 23 Februarie afgeneem is. Packham het gesê hy het nie geweet of die buitebande, wat in Augustus afgeneem is, syne is nie en het volgehou dat hy nie die buitebande vervang het nie.

Steyn het tydens haar uitspraak ook verwys na regspraak oor omstandigheidsgetuienis, alibi’s, uitkenningsparades en die geloofwaardigheid van getuies.

Die hofverrigtinge gaan om 14:15 voort.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerin

Hoekom jy jou vrou moet vermoor omdat jy nie dit wat julle saam op gebou het nie wil deel nie, eerder als saam met iemand anders te geniet wat nooit bygedra het nie, nee wat mag jy dan lewenslank gaan sit en dink oor jou doen en late !

M

Kan ons manne nie verstaan nie. Hulle het dit nie in hulle om weg te kom met moord nie. Hoeveel mans het nou al hul vrouens vermoor en almal word vasgetrek. Skei eerder en dok op wat jy moet. Dan kan jy saam met jou minnares intrek, net sodat sy jou oor ‘n paar jaar kan los vir iemand nuuts. Want dan is jy ook oud en vervelig.