Uitspraak binnekort gelewer ná 5-jarige se ontvoering, moord

Anovuyo Ndamase. Foto: ANA

Anovuyo Ndamase. Foto: ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag slotbetoë aangehoor in die verhoor van Bongani Dlamini, wat tereg staan op aanklagte van ontvoering, verkragting en moord op die vyfjarige Anovuyo Ndamase.

Adv. Alta Collopy, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê Dlamini se weergawe van gebeure was deurspek met teenstrydighede en onwaarskynlikhede en het aangevoer hy was ʼn swak en onoortuigende getuie. Sy het die hof versoek om hom skuldig te bevind op al die aanklagte.

Anovuyo se erg ontbinde liggaam is op 5 Maart 2015 in ʼn vullissak agter ʼn huis in Khayelitsha in Kaapstad gevind, nadat sy ʼn paar dae vantevore weggeraak het. Sy het omstreeks 18:30 op 1 Maart weggeraak terwyl sy buite gespeel het. Haar kaal liggaam is saam met haar klere in die vullissak agter iemand se huis gevind, sowat drie huise vanaf die beskuldigde se huis.

Kapt. Marius Joubert van die polisie se forensiese laboratorium het vroeër getuig ʼn groot hamer met Anovuyo se bloed op is agter Dlamini se bed gevind. Die hamer het DNS van beide Anovuyo en Dlamini op gehad. Bloedspatsels is ook teen Dlamini se kamermuur gevind en daar is later bevestig dat dit Anovuyo se bloed was.

Die staat voer aan die hamer was die moordwapen en dat Anovuyo gesterf het weens ernstige trauma aan haar kop. Daar word ook aangevoer Anovuyo is verkrag voordat sy vermoor is.

Dlamini het skuld op die aanklagte ontken en aan die hof gesê hy was die aand van 1 Maart op pad terug huis toe nadat hy by ʼn kroeg gekuier het, toe hy op ʼn groep inwoners afgekom het wat na die kind gesoek het. Hy het by die soekgeselskap aangesluit, maar is later huis toe toe hulle haar nie kon vind nie.

Volgens Dlamini het hy die volgende oggend wakker geword en ʼn blou vullissak in sy kamer gekry met Anovuyo se lyk in. Hy beweer hy weet nie hoe die sak daar gekom het nie, maar vermoed iemand het by sy huis ingebreek en dit daar gesit terwyl hy geslaap het. Hy het ook beweer hy het ʼn bloederige toneel in sy stoorkamer aangetref, maar was bang hy word in hegtenis geneem as hy die saak by die polisie aanmeld.

Dlamini het gesê hy het die sak met Anovuyo se liggaam agter ʼn buurman se huis gaan gooi en die bloed skoongemaak. Die liggaam is dae later gevind en Dlamini is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Adv. Bruce Morrison, Dlamini se regsverteenwoordiger, het aangevoer sy kliënt moet op al die aanklagte vrygespreek word, aangesien die staat “nie bo alle redelike twyfel kon bewys die beskuldigde was die ontvoerder of moordenaar nie”.

Regter Ashley Binns-Ward het die saak tot 5 September uitgestel wanneer uitspraak gelewer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KarooKlong ·

Baie hartseer verhaal. Medelye met die kind se familie.
Hoop dat hy sy verdiende loon sal ontvang.

Cherokee ·

Bruce Morrison is net so naief soos vele van die kommentators hier wat ook moordenaars en ander aangeklaagdes wil vryspreek sonder om realisties te dink.

Ek huil oor jou ·

Ek huil oor jou poppie dat jou lewe so onregmatig van jou geneem is en dat ons regstelsel jou faal, 15 jaar vir al jou pyn, seerkry en lewe. Bruce jy laat my met geen respek vir jou, n onskuldige pragtige kind?

franje van spanje ·

Nie naief nie, Cherokee…….. GEWETENLOOS! My kind jare terug aan die dood afgestaan en hofsaak het gevolg. Advokaat vir verdediging het dieselfde gedoen. Gelukkig het ons saak gewen en gladdebek met blink kar het op sy groot, rooi neus gekyk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.