Uitspraak eersdaags verwag in omstrede misdaadintelligensiesaak

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Die vakbond Solidariteit verwag eersdaags uitspraak in die omstrede misdaadintelligensiesaak wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voer. Die SAPD het reeds aan die begin van die hofverrigtinge op ʼn omstrede wyse in die hof toegegee dat hy nie in ʼn posisie is om die meriete van die saak te beveg nie.

Die SAPD het verder toegegee dat Roos daarop geregtig is om in ʼn soortgelyke posisie geplaas te word as die pos wat hy voor die beskermde bekendmaking gevul het. Hy is uit hierdie posisie geskuif nadat hy omvattende korrupsie blootgelê het. Die SAPD het ook toegegee dat Solidariteit se regskoste deur die SAPD betaal moet word.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die enigste aspek wat in dispuut gebly het, is die hoeveelheid vergoeding waarop Roos geregtig is. “Die partye het die hof oor hierdie punt toegespreek en Solidariteit se regspan het aangevoer dat die beroepsbenadeling, viktimisasie en skade aan Roos se reputasie die hof noop om die maksimum vergoeding in sy guns toe te staan. Die arbeidshof kan volgens wet die maksimum vergoeding van 12 maande se salaris aan Roos toeken. Solidariteit se regspan het aangevoer dat selfs die maksimum vergoeding wat toegestaan kan word, nie genoeg sal wees om Roos te vergoed vir alles wat hy die afgelope drie en ʼn half jaar moes deurmaak nie.”

Regter Le Grange het aangedui dat uitspraak tot einde Maart 2014 voorbehou is.

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur Mdluli na dié afdeling geskuif nadat hy tydens ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het.

Roos het voorheen as hoof van die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits op die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek; Mdluli het die ondersoek later weer stopgesit en Roos daarna verskuif na die pos wat hy tans beklee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.