Uitspraak gelewer in Rhodespark-saak

Van links is Mduduzi Lawrence Mathibela, Edmore Ndlovu en Thabo Nkala Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: ANA

Die gemoedere het Dinsdag hoog geloop in die hooggeregshof in Johannesburg, waar uitspraak gelewer is in die saak teen drie mans wat daarvan beskuldig is dat hulle twee vroue in Rhodespark in Johannesburg verkrag en hul mans vermoor het.

Mduduzi Lawrence Mathibela (33), Edmore Ndlovu (24) en Thabo Nkala (26) is skuldig bevind op twee aanklagte van moord, twee aanklagte van verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Die drie was deel van ʼn bende van 12 mans wat op 17 Oktober 2015 twee egpare in Rhodespark in Kensington aangeval het. Die bende het die twee mans in ʼn dam ingedwing waar hulle verdrink het. Die bende het daarna die vroue seksueel aangerand en verkrag voordat hulle die vroue beroof het.

Mathibela, Ndlovu en Nkala het dwarsdeur die verhoor skuld op die aanklagte teen hulle ontken.

Die twee vroue, wat Dinsdag langs mekaar in die hof gesit het, het mekaar omhels en gehuil nadat die drie mans skuldig bevind is. Maatskaplike werkers en lede van die ondersoekspan het mekaar ook omhels nadat die uitspraak gelewer is. “Jesus lewe, dankie Jesus,” het een van die maatskaplike werkers gesê terwyl sy die twee vroue getroos het.

Argumente ter versagting en verswaring van vonnis sal na verwagting Dinsdagmiddag aangehoor word.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek haat dit dat my belasting geld nou aangewend moet word om hierdie moordenaars geklee, gedak en gevoed te hou vir die volgende 30 jaar. Teen R12 000 per maand.
Ons kry niks vir ons belasting geld nie. Niks. Ek verstaan hoekom almal emmigreer.

Rg ·

Verswarende vonnis! Ons is keelvol vir geweldsmisdade. Terwyl die ANC die land effektief moet regeer, ‘stalk’ hul eerder sosiale media en gaan aan asof Zille ñ terroris is wie landsveiligheid ondermyn!

Francie ·

Tog jammer die saak word nie aan ‘n groot internasionale klok gehang nie. Die mans se hande is met draad vasgemaak. Dis so goed hulle is in doodskiste ingedwing en toe in die dam gegooi terwyl hulle vrouens moes toekyk. Ek kan my nie ‘n meer gruwelike toneel voorstel nie. Ek bid die vroue vind genesing.
15 Jaar is hopeloos te min.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.