Uitspraak in De Lille-DA-saak dán gelewer

Patricia de Lille. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency

Die hooggeregshof in Kaapstad sal voor die einde van dié maand sê of dit onwettig was vir die DA om ʼn klousule in sy grondwet te gebruik om Patricia de Lille se partylidmaatskap te beëindig.

Uitspraak is Dinsdag voorbehou in die saak tussen De Lille, burgemeester van Kaapstad, en die DA ná hofverrigtinge van twee dae.

Adv. Dali Mpofu, vir De Lille, het in sy slotbetoog gesê die DA bevorder sy eie “selfsugtige belange” in plaas van dié van die land en die mense van Kaapstad deur nie vir De Lille ʼn geleentheid te bied om haar te verdedig teen bewerings van wangedrag nie.

“As sy al hierdie verskriklike dinge gedoen het, hoekom het hulle haar skotvry daarvan laat afkom?” het hy sy vraag in die hof gestel. “Dit is in die belang van die land, nie net Kaapstad nie, om te weet of hierdie bewerings werklik waar is.”

Mpofu het gesê die DA wil egter nié die bewerings opklaar nie omdat die opposisieparty wil hê dat die bewerings soos ʼn donker wolk oor haar moet hang. Hy het die hof gevra om teen die DA uitspraak te lewer omdat die party nie belangstel om die waarheid aan die publiek te openbaar nie.

Hy het ook aan die hof gesê dié saak behoort ʼn voorbeeld te stel deur die DA ʼn bestraffende kostebevel op te lê.

Sean Rosenberg, vir die DA, het vroeër gesê daar is “niks in die saak wat aandui dat die 24 uur tydperk” vir De Lille om te reageer op die beëindiging van haar partylidmaatskap onvoldoende was nie. Hy het aangevoer De Lille het nie gevra vir langer tyd om te reageer nie en was daarom nie op uitstel geregtig nie.

“Ons stel dit dat die tydperk nie onvoldoende was nie weens die eenvoud van die besluit wat geneem moes word,” het Rosenberg gesê. “Gegewe die kwessie, en die beperkte aard van die kwessie, en gegrond op die feite, was 24 uur nie onredelik nie.”

De Lille is in Mei in kennis gestel dat haar partylidmaatskap beëindig is op grond van ʼn klousule in die DA se grondwet wat bepaal dat die lidmaatskap van enige lid wat in die openbaar sy of haar voorneme aankondig om die party te verlaat, outomaties beëindig word. De Lille het in April tydens ʼn radio-onderhoud gesê sy sal die DA verlaat sodra haar naam in ere herstel is.

De Lille se regspan voer aan sy het bedoel sy sal haar posisie as burgemeester verlaat, maar Rosenberg betwis dit. Volgens Rosenberg is dit duidelik wanneer daar na die konteks van die onderhoud geluister word dat sy van voorneme was om die DA te verlaat gegewe die feit dat haar verhouding met die party “onherroeplik beskadig” is.

Hy het verder aangevoer De Lille is geensins van voorneme om die verhouding te herstel nie en haar enigste wens is om haar onskuld te bewys.

Op ʼn vraag hoekom daar nie dissiplinêre stappe ingestel kon word vir De Lille om haar onskuld te bewys nie, het Rosenberg gesê dit was omdat dit “ʼn uitgemaakte saak” was dat die burgemeester die party sou verlaat en daarom was ʼn dissiplinêre verhoor oorbodig.

De Lille het verlede maand die eerste ronde van haar regsgeding gewen nadat sy tydelik weer in haar pos as burgemeester aangestel is totdat die hof ʼn finale beslissing kan maak oor die wettigheid van die manier waarop sy verwyder is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wilma ·

Hukom is dit so moeilik vi mense om eerlik te wees en die waarheid te praat. Ongeag of dit n persoon of persone van n party is. Sies man. Kom ons vergeet van liegstories. Politiek sucks

John ·

Hierdie saak kan ‘n president skep wat in die toekoms heerlik misbruik kan word deur burgemeesters wat forever wil regeer nadat hulle aangestel is, sou Le Lille haar sin kry. Mens kan dan doen wat jy wil en diegene wat jou aangestel het in die bek skop, vriende aanstel, selfs uit ander partye wat jou dan onderskraag en uiteindelik werk jy vir ‘n heel ander groep en hul belange. As dit so is in De Lille se geval dat sy haarself bo haar party kan verhef en onaantasbaar is selfs deur die wet en bloot op geraamde gewildheid en bekwaamheid wil bly regeer en beheer, op watter gronde kan so ‘n persoon dan verwyder word? Is De Lille dan gekroon tot koningin en Kaapstad haar domein. Die DA sal haar misdrywe moet ophaal en bewys want anders vou sy daai partytjie in ‘n seilskepie en stuur hom aanstaande jaar oor die kranse by Kaap… Punt.

Mymoney ·

Ek wag nou nog vir mMusi om jammer te se oor sy rassistiese tweets?

bolla ·

Die DA kan by die ANC leer (hoe ironies) om behoorlike party dokumente op te stel. As De Lille ‘n ANC lid was, was sy al voor Christmas verlede jaar uit haar pos. Die ANC sukkel nie om outjies soos burgemeesters, premiers en presidente terug te roep nie.

Theo ·

Die DA het hierdie De Lille saak so swak hanteer n mens wonder waar die leier/s van die groep is. Nee wat, hierdie party gaan net soos COPE in die niet verdwyn. Ons is n groot groep vriende en Familie wat DA was, en gaan ons volle gewig nou agter die VF+ gooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.