Uitspraak in Krugersdorp-moorde begin

Marcel Steyn in die hooggeregshof in Johannesburg [3 Junie 2019]. (Foto: Maroela Media)

Regter Ellem Jacob Francis het vanoggend in die hooggeregshof in Johannesburg begin met sy uitspraak in die opspraakwekkende Krugersdorp-moordverhoor.

Cecilia Steyn (38), Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) is die laaste oorblywende lede van die organisasie Electus per Deus (Gekies deur God), oor wie daar uitspraak gelewer moet word in die strafregtelike aanklagte teen hulle. Hulle word onder meer beskuldig van 11 moorde en dat hulle ʼn rampokkeronderneming tussen 2012 en 2016 bedryf het.

Cecilia staan tereg op altesaam 32 aanklagte, Valentine op 31 aanklagte en Marcel Steyn, die jongste lid van die groep, staan tereg op 21 aanklagte.

Hofverrigtinge het bykans ʼn uur en ʼn half laat begin, nadat daar nie genoeg plek vir Cecilia Steyn en Valentine op die voertuie was wat gevangenes hof toe vervoer nie.

Die staat het verlede maand in sy slotbetoë in die hooggeregshof in Johannesburg voor regter Francis aangevoer die beskuldigdes in dié saak se moordtogte is beplan en uitgevoer op dieselfde manier as wat ʼn korporatiewe onderneming bedryf sou word.

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn in die hooggeregshof in Johannesburg [3 Junie 2019]. (Foto: Maroela Media)

Adv. Gerrit Roberts, namens die staat, voer aan Cecilia het aan die hoof gestaan van Electus per Deus en was die baasbrein. Hy het gesê Cecilia is ʼn “patologiese leuenaar” wat die Bybel gebruik het om mense rondom haar te manipuleer.

Marcel het verlede maand haar weergawe van gebeure verander en aangevoer dat sy onder dwang opgetree en vir haar lewe gevrees het. Sy het haar boonop in verskeie van die moorde geïmpliseer. Dit word egter nie as ʼn bekentenis geag nie.

Die saak het later bekend geraak as die “afspraakmoorde” omdat verskeie slagoffers vermoor is toe hulle iemand vir ʼn afspraak ontmoet het.

Marinda Steyn (51) en haar seun Le Roux Steyn (22) is verlede jaar ingevolge ʼn pleitooreenkoms skuldig bevind vir hulle aandeel in die moordtogte. Marinda is tot 11 lewenslange vonnisse en ʼn bykomende 115 jaar tronkstraf gevonnis. Le Roux is effektief 25 jaar tronkstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jolene ·

Wat ‘n opspraakwekkende saak. Baie teleurgesteld dat die hele saak nie “live” uitgesaai was nie. Om ‘n berig te lees vs. Marinda en Celilia se beeldmateriaal kan nie eers vergelyk word nie. Die gesigsuitdrukkings en lyftaal spreek lieg en uiterste selfbeheersing vir die gogga wat wil uitspring. 11 life counts please!

Sophia ·

Hierdie saak behoort ‘n loket treffer te wees as daar ‘n fliek van gemaak word!!

Treurgrond ·

Hoe doen mense so iets – en dan se hulle hulle is Gekies deur God. Man man man, wat van die vermoordes se mense. Het hulle nie daaraan gedink nie. Op die een foto lyk Zak Valentine so selfversekerd. Mense in die tronk gaan dit nie so maklik gaan nie. Geen straf is genoeg vir wat julle gedoen het nie.

ES ·

Afgryslik skokkend… kan nie glo daar is sulke siek mense op hierdie aarde nie…

Danielle ·

Die saak word live uitgesaai op YOUTUBE, waar hulle elke details beskryf sonder emosie oor hoe hulle die mense doodgemaak het.

GN ·

REEKSMOORDENAARS! Hulle gee weer nuwe betekenis aan die woord.

PJC ·

Ek verstom my oor wat die mense aangevang het. Die jong enetjie Marcel lyk asof botter nie in haar bekkie kan smelt nie en dan word sy met sulke wreedhede geasosieer. Ongelooflik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.