Uitspraak in Krugersdorp-moorde-saak verwag

Cecilia Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Uitspraak sal na verwagting Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg gelewer word in die opspraakwekkende verhoor van die sogenaamde Krugersdorp-moorde.

Die staat het verlede maand in sy slotbetoog in die hooggeregshof in Johannesburg voor regter Ellem Jacob Francis aangevoer die beskuldigdes in dié saak se moordtogte is beplan en uitgevoer op dieselfde manier as wat ʼn korporatiewe onderneming bedryf sou word.

Adv. Gerrit Roberts, namens die staat, voer aan Cecilia Steyn (38) het aan die hoof gestaan van die gestruktureerde organisasie Electus per Deus (Gekies deur God) en was die baasbrein. Hy het gesê Steyn is ʼn “patologiese leuenaar” wat die Bybel gebruik het om mense rondom haar te manipuleer.

Steyn, Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) staan tereg op 11 moorde, asook verskeie ander aanklagte wat bedrog en roof insluit. Al drie ontken skuld.

Die drie word daarvan beskuldig dat hulle deel was van ʼn sogenaamde “Christelike bediening” wat glo onder leiding van Cecilia gefunksioneer en tussen 2012 en 2016 ʼn skrikbewind in die Krugersdorp-omgewing gevoer het. Die saak het later bekend geraak as die “afspraakmoorde” omdat verskeie slagoffers vermoor is toe hulle iemand vir ʼn afspraak ontmoet het.

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Marcel Steyn het verlede maand haar deuntjie verander en aangevoer dat sy onder dwang opgetree en vir haar lewe gevrees het. Sy het haar boonop in verskeie van die moorde geïmpliseer. Dit word egter nie as ʼn bekentenis geag nie.

Marcel het onder meer aan die hof gesê sy was teenwoordig toe Mikeila Valentine (25), Zak se vrou, in Oktober 2012 vermoor is. Sy het getuig dat sy haar selfs een steekwond toegedien het.

Roberts het gesê ʼn varkkop is in ʼn stadium gebruik sodat die groep hul steektegniek kon oefen. In sy opsomming van gebeure het Roberts aangevoer wanneer geloof by ʼn situasie ingebring word, is mense geneig om nie nugter oor ʼn saak te dink nie. Cecilia Steyn het onder meer beweer sy is ʼn heks en die bruid van Satan en hoewel sy dié dinge soos die werklikheid laat klink het, was dit ʼn bedrogspul.

Marinda Steyn (51) en haar seun Le Roux Steyn (22) is verlede jaar ingevolge ʼn pleitooreenkoms skuldig bevind vir hul aandeel in die moordtogte. Marinda is tot 11 lewenslange vonnisse en ʼn bykomende 115 jaar tronkstraf gevonnis. Le Roux is effektief 25 jaar tronkstraf opgelê.

Die moorde

Zak Valentine op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Luidens die getuienis is Natacha Burger en Joy Boonzaaier in Julie 2012 in Burger se huis in ʼn veiligheidskompleks vermoor. Zak het dié moorde gepleeg nadat Mikeila Valentine se moed haar begewe het.

Pastoor Reg Bendixen is in Augustus 2012 in sy huis in Honeydew in Johannesburg vermoor. Dié moord is glo gepleeg omdat Bendixen klaarblyklik ʼn preek van Cecilia as sy eie gebruik het.

In Oktober 2012 is Mikeila in haar en Zak se huis vermoor. Dit is glo gedoen om die res van die groep teen haar te beskerm. Marinda en Marcel het haar na bewering vermoor.

Peter (51) en Joan (47) Meyer is in hul huis in Noordheuwel vermoor. Die moordenaars het onder valse voorwendsels toegang tot die welgestelde Meyers se huis verkry. Nadat hulle vermoor is, is hulle huis vir ʼn kluis deursoek, maar die aanvallers kon uiteindelik net ʼn paar honderd rand buit.

Marcel Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Jarod Jackson is in Desember 2015 vermoor toe sy koeldrank gedokter is. Die staat voer aan sy moord was deel van die groep se gemeenskaplike doel om te maak of Zak dood is, sodat hulle die geld van sy lewensversekeringspolis kon ontvang. Hiervoor het hulle ʼn lyk nodig gehad. Zak ontken betrokkenheid by dié plan.

Glen McGregror (57), ʼn belastingkonsultant, is in Januarie 2016 vermoor. Nadat hy vermoor is, is sy liggaam in ʼn bad in die huis geplaas en die moordenaars het sy huis deursoek vir geld en ander items.

Anthony Scholefield (67), ʼn makelaar, en Kevin McAlpine, ook ʼn makelaar, is albei in Mei 2016 vermoor.

Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent, is ook in Mei 2016 vermoor. Geld is ná haar dood uit haar rekening onttrek en daar is later naby Tarlton van haar liggaam ontslae geraak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ig ·

Goeie eerlikke moontlikke moordenaars daai, Bossasa het ook elke dag met skriflesing en gebed die dag begin

Louis leeu ·

Geen appèl asb en sluit hulle vir baie lank weg.Hulke het baie hartseer vir baie families gebring.

Karlahari ·

As die hoof opskrif gelees het “plaasmoorde” was daar nou weer hope kommentaar gewees……
Hierdie goed verdien nie om soos mense behandel te word nie. “Ons mense” wat ons eie mense vermoor.

Petro ·

Mag hulle nooit weer die buitekant van ‘n tronk sien nie. Soveel gebroke families agter gelaat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.