Uitspraak in Mido Macia-moordsaak vandag gelewer

'n Skermskoot uit 'n video wat wys hoe Mido Macia agter 'n polisievangwa gesleep is.

‘n Skermskoot uit ‘n video wat wys hoe Mido Macia agter ‘n polisievangwa gesleep is.

Die hooggeregshof in Pretoria was Dinsdagoggend gepak met plaaslike en internasionale media waar die uitspraak in die Mido Macia-moordsaak gelewer sal word.

Minstens tien uitsaaikameras was in die hofsaal, met verskeie uitsaaibussies wat buite in die straat gestaan het. Die openbare galery was ook gepak met joernaliste toe regter Bert Bam die hofsaal binnegestap het.

Agt voormalige polisiebeamptes staan tereg op aanklagte van moord op die Mosambiekse taxibestuurder op 26 Februarie 2013. ʼn Negende voormalige polisiebeampte wat ook vir die moord aangekla is, is vroeër vandeesmaand deur die hof vrygespreek.

ʼn Staatsgetuie het gesê hy het fouteer toe hy Matome Ramatlou by die moord betrek het. Ramatlou is kort daarna vrygespreek.

Die beskuldigdes Bongamusa Mdluli, Meshack Malele, Thamsanqa Ngema, Percy Mnisi, Sipho Ngobeni, Lungisa Gwababa, Bongani Kolisi en Linda Sololo het aandagtig geluister toe Bam getuienis wat gedurende die verhoor gelewer is, voorgelees het. Die agt beskuldigdes is ná ʼn dissiplinêre verhoor uit die polisiemag geskors.

Macia is na bewering in 2013 deur die polisiebeamptes genader nadat hy sy minibustaxi op ʼn onwettige plek parkeer het en ʼn verkeersknoop veroorsaak het. ʼn Woordewisseling het tussen hom en die polisie ontstaan en hy is agter ʼn polisievangwa aan gesleep. Hy is later in die selle van die Daveyton-polisiestasie dood.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.