Uitspraak in perlemoen-saak lank uitgestel

Vermeende perlemoenbaas Julian Brown in die hooggeregshof in Port Elizabeth met medebeskuldigdes Eugene “Boesman” Victor en Brandon Turner (Foto: Raahil Sain/ANA)

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het Donderdag die saak van die vermeende meesterbrein van ʼn multimiljoen rand se perlemoenbedryf tot volgende jaar uitgestel.

Regter Mandela Makaula was nie Donderdag gereed om uitspraak te lewer in die saak teen Julian Brown (32), wat tereg staan op ʼn reeks aanklagte, insluitend swendelary tussen Januarie 2015 en April 2016, nie. Brown word daarvan beskuldig dat hy die onderneming saam met Eugene “Boesman” Victor en Brandon Turner bedryf het.

Brown se regspan sal na verwagting Vrydag ʼn aansoek bring dat sy borgtog van R800 000 verminder moet word. Victor sal na verwagting ook ʼn nuwe aansoek om borgtog indien.

Volgens die klagstaat staan Brown ook tereg op ʼn bykomende aanklag van geldwassery wat verband hou met die aankope van ʼn luukse motor. Die staatsaanklaer voer aan Brown het in September 2015 Dada’s Motorland, ʼn tweedehandsemotorhandelaar naby Fourways in Gauteng, besoek en belangstelling getoon in ʼn wit Ferrari California ter waarde van ongeveer R1,9 miljoen.

Brown het glo Martin Kriel genader, hom gevra om die Ferrari te koop en te finansier en dit in sy naam te registreer vir ʼn betaling van R500 000 kontant. Brown het ingestem om die maandelikse betalings in kontant aan Kriel te oorhandig.

Hy het ʼn bedrag van R502 000 in kontant aan Kriel oorhandig vir die transaksie.

Kriel het in Oktober 2015 die Ferrari California aangekoop en gefinansier en die motor is in sy naam geregistreer. Die motor is by Kriel se huis afgelewer en Brown het dit later opgelaai. Die staat glo die R502 000 was die opbrengs van onwettige perlemoenbedrywighede.

Ander mans wat as vennote op die klagstaat aangedui word en Brown glo gehelp het om sy multimiljoen rand se onderneming op die been te bring, het intussen as artikel 204-getuies in die hof verskyn.

Die staat het in ʼn omvattende klagstaat die aard van die onderneming uiteengesit, waaronder die verpakking, uitdroog, sout, vries en prosessering van perlemoen vir verkope buite Suid-Afrika. Die bedrywighede het na bewering in Nelson Mandelabaai (Forest Hill, Algoa Park, Westering, Sherwood, Kamma Ridge en North End) plaasgevind en verskeie rolspelers word betrek.

Die staat voer aan Turner het in Mei 2015 ʼn onwettige perlemoenprosesseringsaanleg by sy huis in Westering bedryf waar 7 570 stukke perlemoen, wat meer as ʼn ton geweeg het, later gevind is.

Brown het vroeër beweer hy het sy geld gemaak uit skrootmetaal en die verkope van tweedehandsemotors voor hy sy konstruksiemaatskappy, J&B Construction, geregistreer het.

Die saak is tot 5 Februarie uitgestel vir uitspraak.

Lees alle vorige berigte oor die PE-perlemoensindikaat-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karen ·

Nog n saak wat sal verdwyn ten gunste van stroper of liewer beskuldigde wat steeds sy ‘reine onskuld’pleit…..

Deon ·

Enige iemand wat met sulke tipe bedrywighede hulle geld maak behoort lewenslank toegesluit te word. Dis hulle wat veroorsaak dat die gewone man op straat nie eers 1 perlemoen mag uithaal nie

Sê maar net ·

Ek stem 100% saam, Deon. Hulle is skurke. Ek het al gerapporteer aan Polisie, Valke en en en…… want in ons area is daar groot bedrywighede, maar hulle word net nie vasgetrek nie. Hulle het hulle sogenaamde maatskappy en hulle werk kamstig van die huis af. Maar hulle het duikpakke en snorkels en bote. Duikpakke hang elke dag op die draad, maar hulle gaan duik nie. Die voertuie ry rond in die middel van die nag, maar nee, hulle doen mos niks verkeerd nie.

nouwatnou ·

…borgtog van R800 000.00 vir perlemoen, R2 000.00 borgtog vir moord….ons regstelsel darem….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.