Uitspraak in saak teen Eskom ‘baan weg’ vir ander sake – Sakeliga

Argieffoto (Foto: Unplash)

’n Onlangse uitspraak deur die hoogste hof van appèl in die saak tussen Resilient Properties en ander teen Eskom en die eMalahleni-munisipaliteit word as toonaangewend bestempel.

Die hoogste hof van appèl het op 29 Desember Eskom se aansoeke om appèl teen beslissings van onderskeidelik die Suid-Gautengse hooggeregshof en Noord-Gautengse hooggeregshof van die hand gewys. Die kragvoorsiener het appèl aangeteken nadat die hof in 2019 teen sy gebruik om wanbetalende munisipaliteite se elektrisiteit in geheel te onderbreek en dus elektrisiteitstoevoer van betalende eindgebruikers onregmatig te weerhou, beslis het.

Maroela Media het vroeër berig Sakeliga het as vriend van die hof gedien om te verhoed dat Eskom betalende kliënte in verkwistende munisipaliteite se elektrisiteit afskakel.

Die organisasie meen nou die uitspraak bied nie net mediumtermynverligting aan ondernemings, sakekamers en andere in dorpe oor die hele land ten opsigte van kragonderbrekings nie, maar baan ook die weg vir gemeenskappe om voortaan die hof te nader vir ’n interdik teen Eskom.

Die hoogste hof van appèl het einde verlede maand beslis dat Eskom se besluit om elektrisiteitstoevoer te staak om sodoende betalings van wanbetalende munisipaliteite te verhaal, irrasioneel was.

Regter Xola Petse, adjunkpresident van die hoogste hof van appèl, het tot die gevolgtrekking gekom dat Eskom grootmaat-elektrisiteitstoevoer na die Emalahleni-munisipaliteit en die Thaba Chweu- plaaslike munisipaliteit as houvas gebruik het om betaling te verhaal op ’n tydstip toe Eskom goed geweet het dat dit nie daartoe sou lei dat die finansieel benarde munisipaliteite hul skuld sou vereffen nie.

Die hof het Eskom verder gekritiseer vir sy versuim om sy groeiende munisipale debiteureboek behoorlik te bestuur. Die hof het ook sy kommer uitgespreek oor die nasionale regering wat langer as ’n dekade nie doeltreffend ingegryp het in munisipaliteite se versuim om skuld aan Eskom te delg nie.

Die hof het bevind dat die regering op alle vlakke daarin misluk om behoorlike munisipale administrasie te handhaaf.

Die belangrikheid van een saak

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die betrokke hofsaak was belangrik aangesien die wydverspreide aard van Eskom se elektrisiteitsonderbrekings by wanbetalende munisipaliteite dringende ingryping noodsaak.

“Dit het oor die hele land algemene praktyk vir Eskom geword om betalende verbruikers as houvas te gebruik in ’n poging om betaling van munisipaliteite wat in gebreke gebly het, te verkry.

“Die gevolg was ’n ernstige agteruitgang van die plaaslike nywerhede in dorpe oor die land, wat verder ’n bose kringloop van plaaslike ekonomiese ineenstorting tot gevolg gehad en veroorsaak het dat hulle Eskom nie meer kon betaal nie.”

Volgens Roux is verskeie hofsake uitgestel in afwagting van die betrokke saak se uitspraak. “In ’n poging om Eskom se stappe om elektrisiteitstoevoer af te sny hangende skuldinvordering van mislukte munisipaliteite, het onder meer sakekamers landwyd die een interdik ná die ander asook ander regsgedinge teen Eskom en munisipaliteite aanhangig gemaak. Mettertyd het dit duidelik geword dat die sogenaamde Resilient-saak gesaghebbende regspraak oor die kwessie sou daarstel, en ander howe en forums het daarom verskeie gedinge teen Eskom opgeskort hangende uitspraak in die Resilient-saak.”

Roux wys nou daarop dat die uitspraak korttermyn- én langtermynoplossings baat om staatsverval die hoof te bied.

“Die uitspraak behoort Eskom byvoorbeeld in sy spore te stuit om geld van mislukte munisipale regerings te probeer verhaal deur elektrisiteitstoevoer af te sny.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.