Uitspraak in Unisa-taalsaak voorbehou

Uitspraak is Donderdag in die Konstitusionele Hof voorbehou in die taalbeleidsaak tussen AfriForum en Unisa. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Uitspraak is Donderdag in die Konstitusionele Hof voorbehou in die saak van die burgerregteorganisasie AfriForum teen die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eentalige Engelse taalbeleid. Die saak is regstreeks aangehoor.

Maroela Media het berig dat Unisa appèl aangeteken het teen ’n uitspraak verlede jaar deur die Hoogste Hof van Appèl dat sy Engelse taalbeleid, wat in 2016 aanvaar is, nie ooreenstem met die bepalings in die Grondwet nie.

AfriForum het destyds die saak by die hof ingedien.

Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, het die organisasie in antwoord op Unisa se argumente teen die uitspraak gesê dat Unisa se bewerings oor ’n afname aan studente se behoefte vir Afrikaanse onderrig nie met onbetwisbare getalle bewys kon word nie.

“Die universiteitsbestuur kon ook nie aandui hoe ander tale bevorder kan word of sedert die implementering van die beleid in 2017 bevorder is danksy die afskaffing van Afrikaanse onderrig nie.”

Bailey sê voorts dat Unisa die beleid op ’n onregmatige wyse aanvaar het en dat die handhawing van Afrikaanse onderrig nie ’n rassekwessie is nie, aangesien moedertaal-Afrikaanssprekendes aan alle rasse behoort.

“Wat Unisa se argumente betref, is die rassekaart maar weer gespeel. AfriForum is veral dankbaar dat regter Steven Majiedt in reaksie dit baie duidelik aan al die partye gemaak het dat Afrikaans ’n inheemse taal is wat deur mense van alle rasse gepraat word.”

Volgens Bailey het die Hoogste Hof van Appèl gelas dat Unisa alle kursusse wat ten tye van die aanvaarding van die nuwe beleid nog in Afrikaans beskikbaar was, weer in Afrikaans moet beskikbaar stel.

“Unisa het aangedui dat dit onmoontlik is, maar AfriForum se argument was dat die meerderheid van die materiaal nie só vinnig verouder nie en dat Unisa nie kon bewys watter mate van hersiening en koste dan ter sprake sou kom nie.”

Hoewel AfriForum voorheen ook met die Universiteite van die Vrystaat (UV) en Pretoria (UP) in geskille oor dié instansies se taalbeleide gewikkel was, sê die organisasie dat die omstandighede by Unisa “uniek” is.

“In die geval van die UV-taalsaak het die Konstitusionele Hof verklaar dat Afrikaanse klasse segregasie veroorsaak. By Unisa is daar nie van klasse sprake nie.

“In die saak oor UP se taalbeleid het die universiteitsbestuur geargumenteer dat Afrikaanse studentegetalle te min is om akkommodering te regverdig, maar in Unisa se geval is tussen 20 000 en 30 000 van die studente moedertaal-Afrikaanssprekendes,” sê Bailey.

Die regter het nie aangedui wanneer uitspraak gelewer sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

boerie ·

Wat my opval is die getal sake waar uitspraak voorbehou word, kan hulle nie self n beslissing maak nie? Dit is al asof hulle eers moet vra vir toestemming om iets te kan doen, ek wonder met wie hul konsulteer oor die uitspraak wat hulle moet lewer.

Hennie J ·

As uitspraak voorbehou word dan wonder ek dadelik of hulle nou eers by hulle meesters moet uitvind wat hulle moet besluit!

Nico ·

By wie moet hulle nou uitvind wat is die regte besluit, Afrikaans is nie ‘n uitheemse taal nie. Hou op om die rasse kaart te speel, dit raak nou vervelig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.