Uitspraak oor ‘billike’ vergoeding vir grond verwelkom

grond plaas boer trekker

(Argieffoto: pixabay)

Agri SA het ʼn uitspraak in die grondeisehof, wat bepaal dat die staat grondeienaars die volle markwaarde vir hul grond moet bied, verwelkom.

Die saak het gehandel oor ’n jare lange dispuut tussen die eienaars van die plaas Jakkalsdans noord van Pretoria en die Moloto-gemeenskap, wat vroeër ’n restitusie-eis ten opsigte van die grond ingestel het. Dit het gelei tot ʼn vergoedingsdispuut tussen die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die eienaars van onderverdelings van die plaas.

Agri SA het die grondeienaars finansieel bygestaan en was die afgelope tien jaar regstreeks by die saak betrokke.

Volgens die organisasie het die staat volgehou om die grondeienaars aansienlik minder as markwaarde vir hul grond aan te bied en die inwerkingstelling van ʼn hersiene waardasieformule deur die waardeerder-generaal in Augustus 2015 het verdere vertragings veroorsaak. Dit het boonop die finalisering van grondhervormingseise landwyd gestuit.

Volgens die uitspraak in die Jakkalsdans-saak moet die staat grondeienaars die volle markwaarde van hul grond betaal as geen ander faktore, soos bepaal in die Grondwet, van toepassing is nie. Dié ander faktore sluit in die huidige gebruik van die eiendom, geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom, die omvang van direkte staatsbelegging en subsidie ​​in die verkryging en voordelige kapitaalverbetering van die eiendom, asook die doel van die onteiening.

Agri SA sê hy ondersteun die beginsel ten volle dat markwaarde die belangrikste komponent is wat oorweeg moet word om “regverdige en billike vergoeding” in restitusie-aangeleenthede te bepaal.

“Inklusiewe boerdery met die oog op voedselsekerheid is gegrond op onbetwiste eiendomsregte en toegang tot kapitaal,” sê Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Grond.

Agri SA sê hy is verbind tot volhoubare en regverdige grondhervorming en dat die uitspraak die kernbeginsel van eiendomsreg as grondslag van ʼn “volhoubare, veerkragtige en inklusiewe landbousektor vir geslagte wat kom”, bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Moenie droom nie. Die ANC speel vir tyd om boere sag te maak om te begin glo dat howe sal kan ingryp as hul onregverdig behandel word. Kyk na ande probleme, erge vergrype, en die magtelose hand van regters is duidelik sigbaar. Niks goeds wag vir boerderygemeenskappe nie.

Chris

Ek kan nie aan een regsgeding dink waarby die regime betrokke was dat dit in hul guns beklink is nie. Om demokrasie in ‘n land te hê, kos harde werk. ‘n Demokrasie is vir ‘n land waar die burgers almal naastenby dieselfde geletterdheid, beskaafdheid en finansieële gelykheid het. Die burgers se kulture moet ook baie naby aan mekaar wees. Daar is slegs ‘n handjievol lande wat daarop kan roem dat ‘n demokrasie in hul lande werk. Dit is baie maklik om wette, reëls, ordinansies en wat ook al op jou wetboeke te kry, die uitdaging kom hoe dit aangewend en… Lees meer »

Frank John

Daai uitspraakmaker sal nie weer toegelaat word om oor so ‘n saak as regter op te tree nie as julle nie pasop nie. So wees maar versigtig, dis een veld slag wat dalk positiewe uitkoms gegee het. Daar is nog baie sulke gevegte wat oorwin moet word. Daar is slim mense onder die skelms. Hulle sal dalk met nuwe gevegte vorendag kom en as hulle nie so reg kom nie sal hulle agterbakse geweld gebruik.
Wees dus baie optimisties opgewonde.

Swerwer

Die makste hond byt die sserste en beslis gaan die ANC/Regering nie so maklik ingee om te betaal nie.

Pieter

Pasop vir die waardasie. Waardeerder kop in een mus met regering, sal seker maak jy kry ‘n laer prys. Het dit self meegemaak en aangemeld. Waardeerdersvereniging steun korrupte optrede.