Uitspraak oor BLF se HS Driehoek-uitlatings ‘lê grondslag vir strafsaak’

Lindsay Maasdorp. Foto: Facebook

Solidariteit gaan begin met ʼn strafsaak teen Black First Land First (BLF) asook sy woordvoerder, Lindsay Maasdorp, en adjunksekretaris-generaal, Zwelakhe Dubasi, in verband met die uitlatings oor die Hoërskool Driehoek-tragedie vroeër vanjaar.

Regter Ratha Mokgoatlheng het Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg sy oorspronklike uitspraak nietig verklaar waarin hy verlede week in die appèlhof beslis het dat Maasdorp se uitlatings op haatspraak neerkom.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, het aan Maroela Media verduidelik die uitspraak is nietig verklaar aangesien die definisie van haatspraak eers gewysig moet word aangesien dit ongrondwetlik is.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het die haatspraakklag teen die party op 14 Februarie vanjaar by die gelykheidshof ingedien nadat hy ’n mandaat van die slagoffers van die Driehoek-skoolramp se ouers ontvang het.

Die klag het gevolg nadat Lindsay Maasdorp, die BLF se woordvoerder, die dood van vier jong leerders op sosiale media gevier het. Hy het geskryf: “I would ‘mourn’ the deaths of the victims if they turned out to be black but ‘celebrate’ them if they were white.”

Vier leerders van die Hoërskool Driehoek is dood en minstens 20 kinders beseer nadat die betonvloer van ʼn loopbrug by die skool ingegee het.

Van der Bijl sê in ʼn verklaring hoewel die onlangse appèlhofuitspraak lui dat die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) ongrondwetlik is, Mokgoatlheng wel bevind het dat die BLF en sy verteenwoordigers swaar gestraf sou word vir hul walglike aanmerkings.

‘n Skermskoot van die uitlatings.

Van der Bijl verduidelik dat daar nooit enige twyfel bestaan het oor die verwerplikheid van die aanmerkings nie en dit is bevestig deur die uitspraak wat deur die appèlhofuitspraak nietig verklaar is.

“Volgens die uitspraak was hierdie aanmerkings inderdaad rassisties, kras, onsensitief, barbaars, en gemaak met die opset om seer te maak, skade te berokken en rassehaat aan te hits. Die regter het tereg opgemerk dat die aanmerkings rassehaat aanwakker,” sê Van der Bijl.

“Die regter het bevind dat daar geen groter aanhitsing tot rassehaat kan wees as dat iemand hom oor die dood van onskuldige kinders verheug en dit vier nie, bloot vanweë die kleur van hul vel.”

Van der Bijl verduidelik dat hoewel Solidariteit die reg op vryheid van spraak ondersteun, hy ook glo dat gedrag wat aanvoer dat ʼn rassegroep nie die gelyke waardigheid en respek werd is wat deur die Grondwet toeken word nie en dat die groep nie eens die lewe verdien nie in die lig daarvan dat dood in hul midde gevier behoort te word, nie ongestraf mag bly nie.

“In die belang van gelykheid, demokrasie en basiese menswaardigheid kan ons nie toelaat dat sulke uitlatings bloot ongestraf bly nie. Onverdraagsaamheid kan nie geduld word nie; daar kan nie toegelaat word dat haat bly sweer nie.”

Volgens Van der Bijl bied hierdie saak die perfekte platform om ʼn strafsaak van stapel te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
DG

Dankie tog vir Solidariteit, hierdie soort snert kan net nie geduld word nie!

Ronel

Die klomp van BLF het nie ‘n tikkie simpatie of empatie vir enige iemand anders behalwe hulself nie. Mag hul kommentaar hul in die agterent kom byt. Dankie Solidariteit.

Pieter

Bou ‘n nasie . . .

Jo

En skielik is dit asof ek lig sien in n lang tonnel

ChrisE

Die betrokke persoon het een groot identiteitskrisis. Ek glo nie hy weet wat hy self is nie. Nog vis nog vlees. Soekend en onvergenoegd. Mag hy een dag vrede in homself kry en die haat hom nie verder verteer nie.