Uitspraak oor De Lille se amp verwag

Patricia de Lille in die hooggeregshof in Kaapstad (11 Mei 2018). Foto: Chantall Presence/ANA

Die hooggeregshof in Kaapstad gaan na verwagting vandag uitspraak lewer in Patricia de Lille se dringende hofaansoek om haar amp te behou totdat die regsgeding rakende die geldigheid van haar ampsontheffing aangehoor word.

De Lille het Vrydag die hof genader om die dringende aansoek in te dien, waarna die hof sy uitspraak voorbehou het.

Adv. Johan de Waal, De Lille se regsverteenwoordiger, het gesê die uitspraak word teen 13:15 verwag.

Dit volg nadat die hooggeregshof vroeër gehoor het dit kan geen skade inhou om De Lille weer in haar amp as burgemeester aan te stel nie.

De Lille is verlede Dinsdag van haar amp onthef nadat die DA se federale uitvoerende komitee bevestig het dat haar DA-lidmaatskap beëindig is, wat dus wesenlik beteken sy is ook haar burgemeesterspos kwyt.

Haar regspan voer aan gegewe dat die spanning tussen De Lille en lede van die DA-koukus in die stadsraad al langer as ʼn jaar aan die gang is, sal die kwessie dat sy haar pos steeds beklee geen skade aan die Stad Kaapstad of die party aanrig nie.

Regter Patrick Gamble het vroeër gesê gedeelte B van De Lille se aansoek – wat die grondwetlike geldigheid van die beëindigingsklousule betwis – sal op 25 Mei deur ʼn volbank regters van die hooggeregshof aangehoor word.

Ian Neilson, die waarnemende burgemeester, het Maandagmiddag bevestig hy het weens Dinsdag se verwagte uitspraak besluit om die vul van vakante plekke in die raad met ʼn dag uit te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

Die DA het ‘n kortpad probeer vat deur haar só uit te skop en dit gaan in hulle gesigte ontplof. Hulle moes eerder ‘n dissiplinêre verhoor gehou het en al die beweringe teen haar getoets het. Nou lyk sy soos die slagoffer en asof sy verhoed was om haar kant te stel. Ek voorspel die uitspraak vandag sal in haar guns wees. #oorhaastig

Andreás ·

Waarvoor wil sy so graag in die amp aanbly? Normale mense ontruim hul kantoor sodra werker/ werkgewer verhoudinge tot so mate versuur het (om nie eens te praat van oor soveel maande nie). Beweeg aan. Die stad gaan wel skade ly. Voorgesette (selfs ongemagtigde) uitgawes wat deur reeds “kreunende ratepayers” gedra sal moet word. As die hof met tyd beslis sy is onskuldig en onregverdig behandel deel dan daarmee. Tot dan, moet sy verlief neem met die saak…

Oujongvrou ·

Dis wat mens noem n dik vel hê. Sy het net geen skaamte nie. Deur haar aangekarring bereken sy baie skade aan die DA. Pleks sy met waardigheid huis toe gegaan het.

John ·

… en sy word toe weer aangestel… se die regters. En sy bly ook DA-lid. Nou sal sy in haar spore moet trap anders… Die DA is steeds haar baas en daarvan gaan sy niks hou nie. Te veel ANC-soentjies gaan ook nie goed afgaan nie.Klink soos ‘n partytjie waarvan die kos te lank in die son gestaan het…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.