Uitspraak oor SAOG ʼn ‘oorwinning vir Zim-boere’

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Die konstitusionele hof het Dinsdag in ʼn groep Zimbabwiese boere, wat deur AfriForum bygestaan is, se guns beslis dat oudpresident Jacob Zuma onregmatig en onkonstitusioneel opgetree het toe hy saam met ander leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) meegedoen het aan die opskorting en ontbinding van die SAOG-tribunaal se werksaamhede.

Zuma se onregmatige optrede het, volgens AfriForum, die Zimbabwiese boere wie se grond sonder vergoeding deur die Zimbabwiese regering onteien is, ontneem van hulle reg om deur die SAOG-tribunaal vergoeding te eis nadat dié tribunaal reeds bevind het dat die Mugabe-regime se onteiening van grond sonder vergoeding rassisties en onwettig was.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die hofuitspraak nie net ʼn oorwinning vir die Zimbabwiese boere en vir AfriForum nie, maar vir almal wat daarin glo dat leiers verantwoordbaar gehou moet word indien hulle ʼn rol speel om eiendomsreg as basiese mensereg te vertrap deur onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en regsoptrede daarteen te verydel.

Kriel wys daarop dat AfriForum nou met die Zimbabwiese boere wat deur AfriForum verteenwoordig word, oorleg sal pleeg met die oog op die instelling van ʼn skadevergoedingseis teen die Suid-Afrikaanse regering.

“Noudat die hoogste hof in Suid-Afrika bevind het dat Zuma as staatshoof onregmatig tot nadeel van Zimbabwiese boere opgetree het, beteken dit dat die Suid-Afrikaanse regering aanspreeklik gehou kan word vir die verliese wat boere gely het weens Suid-Afrika se optrede om die SAOG-tribunaal se werksaamhede op te skort,” voeg Kriel by.

Hierdie optrede moet ook volgens Kriel ʼn duidelike boodskap aan die Suid-Afrikaanse regering stuur dat AfriForum nie sal huiwer om van internasionale regsprosesse gebruik te maak om leiers wat op enige wyse help om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, uiteindelik tot verantwoording te roep nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het reeds vroeër vanjaar bevind dat Zuma onregmatig en onkonstitusioneel opgetree het toe hy en ander staatshoofde van die SAOG vroeër die verrigtinge van die SAOG-tribunaal opgeskort en later die tribunaal heeltemal ontbind het. Aangesien die hooggeregshof se bevinding ʼn presidensiële handeling raak, moes dit egter deur die konstitusionele hof bekragtig word.

Die hofaansoek is aanvanklik deur die Vereniging van Prokureursordes van Suid-Afrika van stapel gestuur. Verskeie Zimbabwiese boere wat deur die grondgrypproses in Zimbabwe benadeel is, waaronder Ben Freeth en Luke Tembani, het hulle later met AfriForum se bystand by die hofaansoek aangesluit.

Freeth is die skoonseun van Mike Campbell, wat in 2008 geskiedenis gemaak het met ʼn suksesvolle aansoek na die SAOG-tribunaal (wat destyds in Windhoek, Namibië, gesetel was) teen Robert Mugabe se Zimbabwe-regering. Die tribunaal het toe beslis dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses onwettig en rassisties was en gelas dat Mugabe dit staak.

In reaksie het Mugabe egter die interdik van die tribunaal geïgnoreer en eerder die res van die SAOG-leiers oorreed om die tribunaal te ontbind. Sodoende het die bevordering van menseregte en die oppergesag van die reg ʼn geweldige terugslag gekry en is Zimbabwiese boere ontneem van die geleentheid om vergoeding deur die SAOG-tribunaal te eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Kasper ·

Baie goeie nuus, welgedaan, maar as ek nou reg verstaan, gaan ons as belasting betalers nou moet pa staan vir die Zim boere se verliese, want die staat sal net ons geld gebruik om die skuld eise te delg indien toegestaan. Hoekom moet ons pa staan vir mubage se gemors wat hy aangevang het, mos nie regverdig nie.

Die Leeu ·

@Kasper
Jy is korrek. Indien vergoeding wel aan daardie boere toegestaan word, gaan ons belasting-gelde daarvoor gebruik word. Maar @Kasper, ek laat eerder ons belasting-gelde aan sulke boere gegee word, as wat dit in die sakke van ons korrupte en onbevoegte regeringsamptenare en hul makkers se sakke beland. Ons belasting-gelde sal onbeskaamd gemors word, vir so lank as wat ons ‘n korrupte en onbevoegte regering het. Dit maak nie saak hoe kwaad ons daaroor is nie. Maar, dit waarop die gelde gemors word, dit maak ‘n darem verskil.

Tilla ·

Verantwoordelik sal ons gehou word. Wie gaan verantwoordelik gehou word vir die gemors in ons eie land, die verlies van Suid Afrikanders as gevolg van grondonteiening. As my grond gevat word sonder vergoeding, word ek dan ‘n armlastige wat moet lewe van die pensioen wat die staat betaal? Belasting sal seker nou al die hoogte in om voorsiening te maak vir al die “grants” wat betaal moet word

Karolis ·

Daardie mense het net so min respek vir die hoogste hof soos wat mugabe getoon het. Die proses om hulle te laat betaal gaan net so lank neem soos wat hierdie beslissing geneem het. Dis kat en muis op professionele vlak hierdie.

Piet Pompies ·

Dit is een eienskap wat ek by ‘n goeie vriend geleer het, as ‘n persoon of instansie impulsief onredelik en vermakerig teenoor ander optree, bly stil, maak notas. Gee die persoon die geleentheid om behoorlik sy naam met ‘n plank te slaan en klaar maak met sy eenman vertoning. Mense soos Malema, EEF lede en BFLF maak hulself skuldig hieraan.
Gebruik dan die wet om die persoon of instansie op sy plek te sit, dit neem tyd en geld, teen die einde van die dag daag die dag van verantwoordelikheid op.

Dirk Breytenbach ·

Piet Pompies, dankie ek dink ons kan almal iets by jou vriend leer.

1+1 ·

Kasper: Ek stem met jou saam ons is dankbaar dat reg geskied het, maar sal ook graag wil weet of die SA regering die fondse gaan he om hierdie skuldlas te dra as sake sover gaan.

Vryheid ·

Daar is niks wat Zuma en sy party regmatig gedoen het nie, maar dit is nou te laat om daaroor te kibbel.

Andre ·

Zuma het sonder ‘n mandaat van die SA belastingbetalers opgetree tydens die ontbinding van die SAOG Tribunaal.

Daarom behoort hy persoonlik aanspreeklik gehou te word vir die skade wat sy ‘ongemagtigde’ optrede veroorsaak het.

Hy EN Mugabe moet BETAAL!!!

ANDRE ·

HET JY MOOI GELEES ….ONS GAAN BETAAL ….SO WIE HET DIE WIEL PLAT GETRAP…VIR MY EN JOU

Lana ·

ANDRE, ek het verder gelees as net dit wat daar staan.
Dink aan wat die uitspraak beteken in SA se geval i.v.m. OSV.

Geregtigheid ·

Baie dankie AfriForum.
Hou aan om die appel bome te skud, laat die VROT appels asb. Op die grond val en die wurms hulle op vreet.
Ek is ‘n TROTSE AfriForum lid.

Rupert Ashford ·

En julle (MM) is seker die enigste nuusorganisasie wat hieroor sal berig, terwyl julle internasionale kollegas hulleself as “person of the year” aanwys…?

Christa ·

Mugabe en Zuma moet in hul persoonlike hoedanighede opdok. Nie die belastingbetalers nie. AfriForum, julle is kookwater. Hou aan kóók!

John ·

Ongelukkig is dit bietjie laat want soveel jare het intussen verloop wat die vergoeding nooit sal kan opmaak nie… en kyk wie moet nou betaal? Die kanse is skraal dat die SA-regering wel sal moet pa staan want die eintlike skuldige sit in droomland.

Antionette ·

Jy is doodreg Kasper. Belasting betaler betaal reeds aan Zuma sy pensioen elke maand defnitief nie die regering wat pa staan.

Diefie ·

Dankie Afriforum, nou sal ons boere ‘n voet hê om op te staan. Sterkte met julle verdere planne en sukses wat julle sal behaal.

Denise ·

Begin ook om deklerk botha en kie aan te kla vir die onreg wat hulle gepleeg het hulle was direk verantwoordelik vir grond onteiening dit was so beplan laat dit uit hulle privaat rekening betaal word dan sal die ander sien wat kan gebeur . without prejustice

Liamari ·

Vir die wat nou net vaskyk in die paar sent belasting wat jy sal moet opdok… Julle mis die groter prentjie. Geregtigheid het geskied en die uitspraak het dus groot impak op toekomstige uitsprake oor onteiening vir SA boere. Welgedaan Afriforum!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.