Uitspraak oor skoolinfrastruktuur uitgestel

skoolskoene-2

Argieffoto

Uitspraak in Equal Education se saak teen die minister van basiese onderwys oor die norme en standaarde vir skoolinfrastuktuur, is Dinsdag in die hooggeregshof in Bhisho in die Oos-Kaap uitgestel.

Lede van Equal Education het al jare lank ʼn veldtog gedryf dat norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur aanvaar moet word, soos uiteengesit deur die departement in November 2013.

Aldus die bepalings moes onveilige strukture by skole en die verskaffing van basiese vlakke van water, sanitasie en elektrisiteit by skole teen November 2016 afgehandel wees. Die departement het egter nie die sperdatum gehaal nie en Equal Education het die hof genader.

Die saak is vroeër vanjaar aangehoor en die organisasie wil verseker dat die regering homself verbind daartoe om aan sy eie teikens en sperdatums te voldoen om behoorlike skoolinfrastruktuur te verskaf.

Die vyfjarige Lumka Mkhethwa is in Maart oorlede toe sy in ʼn puttoilet by haar skool verdrink het. Haar liggaam is by haar skool in Bizana in die Oos-Kaap gevind, ʼn dag nadat sy verdwyn het.

Die vyfjarige Michael Komape het vier jaar gelede in ʼn puttoilet by Mahlodumela Primary School buite Polokwane verdrink.

Indien die hooggeregshof Equal Education se aansoek goedkeur, sal die land se wette oor skoolinfrastruktuur afgedwing moet word en die nege provinsies sal geen verskoning kan aanbied vir versuim om aan die sperdatums vir noodsaaklike infrastruktuur by skole te voldoen nie.

Equal Education het gekies dat die Bhisho-hooggeregshof die saak aanhoor, omdat die organisasie meen die Oos-Kaap is die provinsie met die swakste infrastruktuur. Aldus die norme en standaarde is puttoilette onwettig, modderstrukture wat as skole dien moet vernietig word en skole moet toegang hê tot water en elektrisiteit.

Die uitspraak is tot 19 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wonder ·

In plaas daarvan dat die regering gratis tersiêre onderrig gee , hoekom begin hulle nie eerder op grondvlak en sien toe dat laerskole die nodige fasiliteite kry vir optimale onderrig nie. In plaas daarvan dat die LUR vir Onderwys in Gauteng daarmee spog dat sekere staatskole op privaat skole se standard gebou is, kan hulle eerder meer skole help om op aanvaarbare standaard te kom. Ek verstaan nie hoe die regering sy geld bestee nie. Ongelukkig vermoed ek dat hulle sekere dinge doen net om stemme te werf. Pateties!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.