Uitspraak oor wetgewing in 11 landstale

Argieffoto

Argieffoto

Die hoogste hof van appèl het Donderdag uitspraak gelewer in die saak van taalaktivis, Cerneels Lourens, wat versoek het dat landswette in al elf amptelike tale vertaal word.

Lourens het aangevoer die feit dat alle landswette nie in al elf amptelike tale beskikbaar is nie, kom neer op onwettige diskriminasie. Wetgewing word tans deurgaans in Engels en in die een of ander willekeurig gekose amptelike taal gepubliseer.

Die gelykheidshof het voorheen teen Lourens beslis, waarna hy hom tot die appèlhof gewend het. Die appèlhof het egter ook bevind die huidige praktyk, om wetgewing in Engels en slegs een ander lukraak gekose amptelike taal te publiseer, nie onbillike diskriminasie is nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, wat bygedra het tot die regskoste, het gesê sy is teleurgesteld met die hof se uitspraak, maar meen daar is wel twee ligpuntjies in die uitspraak.

Die hof het in die uitspraak aanbeveel wysigings wat aan wette gedoen word, moet ook in die taal gedoen word waarin die wet oorspronklik geskryf is,” het Bailey gesê. “Dit beteken baie van die Afrikaanse wette wat voor 1994 geskryf is en na die eerste demokratiese verkiesing gewysig is, is in Engels gewysig of bygewerk, maar hierdie wysigings is nooit in Afrikaans vertaal nie. Die hof het aanbeveel dit moet gedoen word om toe te sien dat gewysigde wetgewing ook volledig in die oorspronklike taal beskikbaar is.”

Bailey het verder verduidelik die hof het staatsdepartemente aangeraai om wetgewing wat deur hulle gedryf word, in die departement se drie amptelik tale te publiseer. “Indien die departement se drie amptelik tale dus byvoorbeeld Afrikaans, Engels en Zoeloe is, moet die wetgewing wat deur hulle gedryf word, in Afrikaans, Engels en Zoeloe gepubliseer word. Dit is ʼn klein oorwinning vir meertaligheid, omdat die wetgewing dan nie net in Engels en een ander lukraak gekose taal gepubliseer sal word nie,” het sy gesê.

Volgens Bailey sal sy egter graag die saak in die grondwethof wil sien, omdat dit een van vele hofsake is wat die vraag stel van wat ʼn amptelik taal werklik beteken. “In ander lande beteken die status van ʼn amptelike taal die taal het sekere afdwingbare regte, byvoorbeeld dat landsburgers kan aandring op regsverteenwoordiging in die taal. In Suid-Afrika is die definisie van ʼn amptelike taal baie dubbelsinniger en die regte van die taal is nie baie duidelik nie. Daarom is dit nodig dat hierdie vraag tot in die grondwethof vorder, sodat die status van ʼn amptelike taal in Suid-Afrika vasgestel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Dee ·

‘Die hof het in die uitspraak aanbeveel wysigings wat aan die wette gedoen word, moet ook in die taal gedoen word waarin die wet oorspronklik geskryf is.’

Word die regte woord gebruik wanneer gesê word dat dit ‘aanbeveel’ is? Aanbeveel is immers ‘recommended’ in Engels en ek dink nie dat ‘n aanbeveling bindend is nie. Die woord dui tog op raadgewend oftewel adviserend en is geen opdrag nie. Is dit die regte woord?
Jul menings op my stelling asseblief.

jaco ·

Weet díé man wat al hierdie meertaligheid van kos? SA is te arm om so iets te bekostig. Maak alles net Engels. Afrikaanse mense kan dan bly wees die een amptelik taal is darem nie Zulu nie, en Sothosprekers kan dan bly wees die een amptelik taal is nie Venda nie.

Zumie ·

Jaco
Dink jy regtig steeds dat die geld wat gespaar word nuttig aangewend gaan word???? Dit gaan net maar Nkandla toe. En dit is belangrik dat ‘n wet verstaan word want as jy dit nie verstaan nie – hoe gaan jy dit gehoorsaam- ook genoem die legaliteitsbeginsel. En nou deel jy stemme met die wat Afrikaans se ondergang wil bewerk . Dink weer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.