Uitspraak vandag gelewer in Springs-gruwelhuis-saak

Die ma in die hof (14 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Uitspraak word vandag [Donderdag] gelewer in die opspraakwekkende Springs-gruwelhuis-saak wat die land geruk het toe die beweerde dade in die huis in 2014 aan die lig gekom het.

Die 39-jarige man en sy 39-jarige vervreemde vrou word daarvan verdink dat hulle hul vyf kinders jare lank in ʼn peperduur dubbelverdiepinghuis, wat 37 kameras in die tuin en wagte gehad het, in Springs aangehou, aangerand, gemartel en van die samelewing versteek het.

Die staat en die regsverteenwoordigers van die man en die vrou, wie se name nie genoem mag word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm, het Dinsdag hul slotbetoë voor regter Eben Jordaan ingedien.

Jordaan het toe aangedui hy gaan slegs die hoogtepunte van die verhoor, wat in 2016 in die hooggeregshof begin het, vandag tydens sy uitspraak aanraak. Hy het aangedui sy uitspraak is 32 bladsye lank.

Die pa het tydens die verhoor sy swygreg gebruik en sy saak gesluit sonder om te getuig. Die ma, wat ongeletterd is, het wel getuig en gesê sy is self deur die man mishandel en was bang vir hom. Kenners het tydens die verhoor getuig die vrou lei moontlik aan “mishandeldevrou-sindroom” weens “20 jaar fisieke en emosionele mishandeling en erge aanranding”. Hulle het ook bevind sy toon tekens van depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring.

Die man, ʼn voormalige sakeman van die Oos-Rand, is in hegtenis geneem toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Die pa kom by die trappe die hof binnegestap (14 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings aangetref en die kinders, toe tussen twee en 16 jaar oud, het geen speelgoed gehad nie.

Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook glo, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie.

Die vrou het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar. Die man het slegs skuld beken op een van die 22 aanklagte teen hom deur te erken hy het met die polisie se ondersoek ingemeng.

Die man is sedert sy inhegtenisneming in aanhouding. Die vrou is borgtog van R2 000  toegestaan.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannelie ·

Ek hoop hulle sit altwee…..want hul tipe hoort nie buite die mure van ‘n tronk nie.

Stuiwer ·

Hoe was die huis peperduur? Na aanleiding van die foto’s wat gereeld in die media geplaas is, het dit nie so gelyk nie. Die vrou is nog ongeletterd ook. Hoe kon hulle dus ‘n “peperduur” huis bekostig. Die vrou is ook net R2 000 borgtog gevra. En die wagte? Hoe is hulle bekostig en waar was hulle die hele tyd., Iewers moes iemand mos onraad gemerk het en uitgepraat het. Ek hoop die “ouers” word die maksimum straf opgelê met GEEN parool in die vooruitsig nie. Die kinders se lewens is opgemors en sal altyd die letsels dra (fisies en emosioneel). Die vrou lei aan mishandelde vrou sindroom, depressie, angs en post-traumatiese stress? Wat ‘n grap! Klink vir my sy soek maar net redes om haarself te verontskuldig! Sy behoort haar te skaam!

Net so ·

Amaizing Hy het elke dag op sy familie geskree en geslaan en weet nie wat nog als nie nou dat hy n kans kry om sy saak te stel nou bly hy tjoep stil Lafaard

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.