Uitspraak vandag in Rohde-moordsaak verwag

Jason Rohde (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Uitspraak sal na verwagting vandag gelewer word in die opspraakwekkende saak teen Jason Rohde, die sakeman wat tereg staan vir die moord op sy vrou, Susan.

Slotbetoë is gister in die Wes-Kaapse hooggeregshof afgehandel.

Susan se liggaam is op 24 Julie 2016 gevind waar dit met ʼn elektriese koord om haar nek aan ʼn haak van die badkamerdeur gehang het in die hotelkamer op die Spier-wynlandgoed. Die staat voer aan Rohde het sy vrou vermoor en toe met die misdaadtoneel gepeuter om dit soos selfmoord te laat lyk. Die verdediging voer aan Susan het haar eie lewe geneem.

Graham van der Spuy, Rohde se regsverteenwoordiger, het Woensdag gesê getuienis van ʼn staatspatoloog en verslae van misdaadtoneelkenners wat tydens die verhoor aangehoor is, is teenstrydig.

Van der Spuy het in sy slotbetoë gehamer op die feit dat Desmond Daniels, die landgoed se nutsman wat deur Rohde ontbied is om die badkamerdeur oop te sluit toe Susan se liggaam gevind is, gesê het Susan was kaal toe sy gevind is. Kapt. Marius Joubert, ʼn forensiese misdaadtoneelkenner en bloedspatselanalis, het egter gesê tydens sy ondersoek van die oorledene het sy ʼn japon aangehad wat omgedop was.

Van der Spuy meen die staat wil suggereer dat Rohde ʼn japon vir Susan aangetrek het toe Daniels reeds by die toneel weg was. Daniels het ook in sy getuienis beweer Rohde het die posisie van die koord om Susan se nek verander nadat hy by die toneel weg is.

Susan en Jason Rohde. Foto: Facebook

Van der Spuy het die hof daarop gewys dat dr. Akmal Coetzee-Khan, ʼn forensiese patoloog van die staat, Susan se liggaam deeglik ondersoek het dieselfde dag waarop sy gevind is. Coetzee-Khan het egter in sy verslag niks van ʼn japon genoem nie.

“As sy getuienis aanvaar word, het hy die oorledene deeglik ondersoek. Hy het ook haar hele rug ondersoek. Hoe ondersoek jy ʼn pasiënt se rug en maak waarnemings sonder om die japon wat sy aangehad het uit te trek?” het Van der Spuy gevra. “Jy kan dit nie doen nie.”

Van der Spuy het verder verwys na staatsadvokaat Louis van Niekerk se bewering dat Susan argumenterend en luidrugtig was en vir Rohde ontstel het en dat hy haar daarom wou stilmaak en haar gevolglik versmoor het.

“Maar hy het wel in ag geneem dat die staat eintlik nie weet wat die oorledene se dood veroorsaak het nie. Ek voer aan dat dit dui op ʼn ernstige fout in die staat se saak. Ek stel dit dat ʼn behoorlike analise die beskuldigde se weergawe van gebeure ondersteun en dat alle objektief bepaalde feite en getuienis wat tydens hierdie verhoor aangehoor is daarmee ooreenstem,” het hy gesê.

“Dit sluit onder meer in al die DNS-bewyse wat voorgelê is, die spesialis-vingerafdrukke wat voorgelê is, die telefoonrekords, SMS-rekords, die Spier-hotel se telefoonrekords, die bloedspatselbewyse en verskeie ander bewysitems.”

Lees alle vorige berigte oor Jason Rohde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Jou ondergang gaan die sluit meganisme wees op badkamer deur.

PIPPIE LANGKOUS ·

Toevallig is my ex-man se naam ook Marius gewees. Presies dieselfde gedoen as Rhode. My vir lank verneuk met ‘n ou skool vriendin. En na dit alles kan ek eerlikwaar se Rhode is nie skuldig nie. Ek het net soos Susan van my kop af gegaan, begin drink, beskuldigings rondgesliger, gewaarsku ek gaan iets aan myself doen. Maar dank die Here ek het heel anderkant (5 Jaar) uitgekom en my 4 kinders het dit ook oorleef. Party vrouens vat so ding maar net erger as ander (Soos ek) maar ek glo met alles in my Jason gaan vandag ‘n vry man by die hof uitstap.

sluit ·

Marius; ek stem saam. Die man lieg soos ‘n matroos; hy is beslis skuldig.

Lola ·

Hi Pippie Langkous, dankie vir jou skrywe. Ek voel presies net soos jy. Ek dink hy is onskuldig aan moord. Ek is bly jy het jouself teruggekry.

Hanneli ·

Dankie tog,

Nou wag ek net vir Henri v. Breda se dag …tronk toe…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.