Uitspraak vertraag TV se migrasie van analoog na digitaal

Argieffoto (Foto: tookapic, Pixabay)

Argieffoto (Foto: tookapic, Pixabay)

Die uitsaaier e.tv het ʼn uitgerekte hofsaak in die hoogste hof van appèl gewen oor digitale televisie in Suid-Afrika.

Die hof het Dinsdag beslis dat ʼn wysiging tot Suid-Afrika se digitalemigrasiebeleid, deur die minister van kommunikasie, nie ʼn konsultasieproses gevolg het nie, irrasioneel was en die regsbeginsel oortree het. Die hof het bevind die wysiging was irrasioneel en ongeldig.

Minister Faith Muthambi se wysiging aan die beleid is gevolglik tersyde gestel.

Dié uitspraak het tot ‘n gevolg dat Suid-Afrika se digitalemigrasiebeleid, wat aanvanklik vyf jaar gelede in 2011 afgehandel moes wees, weer uitgestel moet word. Die land moes verlede jaar op 17 Junie van analoog na digitale uitsendings oorgeskakel het.

e.tv het verlede jaar aansoek gedoen om verlof tot appèl ná ʼn uitspraak in die hooggeregshof oor of Suid-Afrika se digitale uitsendings geënkripteer sal word of nie. Volgens dié uitspraak sou e.tv nie aan kykers met dekodeerders, sonder die nodige enkriptering, kon uitsaai nie.

Die uitspraak in die hooggeregshof was ʼn beduidende oorwinning vir Muthambi en DStv se houermaatskappy, Multichoice, wat streng gekant was teen die regering se besluit om dekodeerders te subsidieer wat ʼn enkripsie-stelsel gebruik. Die betaalkanaal het onder andere aangevoer dat dit op onregverdige mededinging sou neerkom.

Die uitsaaier e.tv was ten gunste van die gesubsidieerde bokse met die enkripsiestelsel.

Muthambi het gesê die regering het reeds ʼn besluit geneem om nie die koste te dek vir die enkripteringstelsel (wat nodig is vir digitale uitsendings) nie.

Kykers met die dekodeerders (sonder enkripteringskapasiteit) sou dus nie e.tv se programme kon sien nie.

Die appèlhof het nie ʼn beslissing gemaak oor enkriptering nie.

Lees die volledige uitspraak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Luister ·

Ek kan nie kop of stert uitmaak van die storie nie??? Eers het e.tv gewen…… dan: dit was ‘n beduidende oorwinning vir Multichoice . Moet mens nou ‘n dekodeerder koop, of nie? En wanneer is dit te koop? As jy reeds ‘n dekodeerder het vir Dstv, moet jy nog hierdie nuwe een ook koop?

Sune van Heerden ·

Dagsê Luister

Die “beduidende oorwinning” het verwys na die vorige uitspraak in die hooggeregshof, waarteen e.tv nou suksesvol geappelleer het.
Jou bestaande Multichoice-dekodeerder word nie hierdeur geraak nie.
Die saak handel oor staatsgesubsidieerde dekodeerders wat, sonder enkriptering, nie e.tv-programme sal kon uitsaai nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

danie ·

Meskien kan die verslaggewer bietjie meer uit vind hoekom dit nodig is om ontslae te raak van analoog , en die impak wat dit het op die samelewing. Iets om hulle mee besig te hou oor die naweek.

m ·

Klink ma deurmekaar. Dis seker weer net sekeres in hierdie land wat vir die dekodeerder sou betaal, die res sou dit weer gratis kry in elkegeval……

Bessie de Kock ·

Maroela verduidelik in menslike taal asseblief. Dat ons ook kan verstaan

Jef ·

Ek probeer te verstaan wat hier aangaan maar selfs met my nugtere boere verstand loop ek teen n muur van sinlose argumente.
Hou dit eenvoudig DStv vir digitale uitsendings met enkripsie en e.tv vir analoog sonder enkripsie dan kan almal mos self besluit of hulle digitaal of analoog wil kyk, en vergeet die ding van subsidie op decoders, as jy wil tv kyk koop dan self n decoder en as jy nie wil kyk nie koop dan nie n decoder nie of skakel tv af.

Paul ·

Die analoogsein gebruik ‘n baie groot gedeelte van die radiospektrum. Digitale TV gebruik ‘n baie kleiner gedeelte van die radiospektrum vir meer kanale in beter beeld- en klankgehalte. Die ekstra radiospektrum wat nie meer deur analoog TV gebruik sal word nie, sal vir vinniger internet gebruik kan word.

KLEIN ·

Met analoog ontvangs kan enige persoon TV kyk selfs sonder `n lisensie. Met digitaal is dit nie moontlik nie want jy moet betaal of jou sein word afgesny. Net `n manier om meer geld te ontvang en TV lisensie ontduiking te beperk.

Kinnie Jacobs ·

So het ek ook vir n ekstra vertrek 1 van hierdie OVHD dekodeerders gekoop, NIE een enkele handelaar waar ek navraag gedoen het, het gevra na my tv lisensie nie….so enige persoon wat net paar kanale wil hê koop net die dekodeerder en kyk dan verniet, ook sonder n lisensie? ek dog dis juis om roofkyk te bekamp?.

Knapie ·

Ek verstaan dat die analoog golflengtes wat op die huidige oomblik gebruik word vir televisie uitsendings, benodig word vir ander komunikasie. Ek herinder my dat die gebrek aan beskikbaarheid van die golflengtes blameer word vir die lae gehalte van internet spoed in SA. Maar ek mag ook die kat aan die stert beet hê…

Luister ·

Dankie, Suné. Ons sal maar moet wag om te sien hoe, en wanneer hierdie saga eindig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.