Uitspraak verwag in omstrede misdaadintelligensiesaak

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Regter Robert le Grange sal Dinsdag uitspraak lewer in die omstrede misdaadintelligensiesaak wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voer.

Die saak is in Februarie aangehoor. Regter Le Grange sal Dinsdag uitspraak lewer oor die enigste aspek wat in dispuut gebly het, naamlik die hoeveelheid vergoeding waarop Roos geregtig is. Die partye het die hof oor hierdie punt toegespreek en Solidariteit se regspan het aangevoer dat die beroepsbenadeling, viktimisasie en skade aan Roos se reputasie die hof noop om die maksimum vergoeding in sy guns toe te staan. Die arbeidshof kan volgens wet die maksimum vergoeding van 12 maande se salaris aan Roos toeken.

Die SAPD het in Februarie op omstrede wyse in die hof toegegee dat hy nie in ʼn posisie is om die meriete van die saak te beveg nie. Die SAPD het toegegee dat daar onbillik teen Roos opgetree is en dat hy daarop geregtig is om in ʼn soortgelyke posisie geplaas te word as die pos wat hy voor die beskermde bekendmaking gevul het. Hy is uit hierdie posisie geskuif nadat hy omvattende korrupsie blootgelê het.

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na dié afdeling geskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits op die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek; die ondersoek later weer stopgesit en Roos daarna verskuif na die pos wat hy tans beklee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.