Uitspraak voorbehou in De Lille, DA se jongste regsgeding

Patricia de Lille. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Johannesburg het Maandag uitspraak voorbehou in die saak tussen die DA en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) rakende voormalige DA-burgemeester Patricia de Lille.

ʼn Volbank regters het vandag gesê hy sal sy tyd neem om uitspraak te lewer.

De Lille het ʼn klag by die OVK teen die DA aanhangig gemaak. Sy het aangevoer haar voormalige politieke party het sy voorverkiesing-telebemarkingsveldtog gebruik om leuens oor haar te versprei. Die DA het appèl aangeteken teen die OVK se beslissing dat die party die verkiesingskode oortree het deur te sê De Lille is deur die DA afgedank. Die DA betwis ook die OVK se magte om die party te dwing om om verskoning te vra.

Die DA se regspan het aangevoer die woord “afgedank” moenie letterlik opgeneem word nie.

Die OVK het die DA drie dae kans gegee om in die openbaar aan De Lille om verskoning te vra omdat sy werwers aan kiesers gesê het die DA het haar afgedank aangesien sy korrup was. De Lille het in werklikheid bedank en is nooit geleentheid gebied om op die korrupsieklag teen haar te reageer nie.

Die OVK se regspan het gesê valse stellings kan die vryheid en regverdigheid van verkiesings ondermyn.

De Lille het gesê die DA versprei leuens oor haar en as hulle enige bewyse van hul bewerings het, moet hulle dit aan ʼn hof voorhou. “Die afgelope twee jaar het die DA probeer om my swart te smeer met valse beskuldigings. Ek het al drie hofsake teen hulle gewen en dié keer is net ʼn voortsetting van daardie geveg,” het De Lille gesê.

Sy het gesê dit gaan interessant wees om die uitkoms van die DA-aansoek te hoor.

De Lille en die DA se paadjies het in Oktober verlede jaar geskei ná hulle maande lank kop gestamp en regsgedinge gevoer het. De Lille het ʼn nuwe politieke party, Good, op die been gebring en boonop tot in die parlement as LP gevorder. Verlede week het pres. Cyril Ramaphosa in ʼn verrassende skuif vir De Lille as minister van openbare werke aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Dries du Toit ·

Die OVK se geloofwaardigheid is al so geskend dat almal maar weet wat die uitkoms sal wees

Swartwolf ·

Antie Pat se stories raak nou bietjie “flat”…..dalk moet sy aftree.

Gollie ·

Ek stem saam met jou sy kan nie eers 2 trappe behoorlik opklim nie,verlede week op die nuus het ek gesien sy kan maar regtig ophou met haar snaakse goed

Henry ·

Hoe kan een mens soveel politieke sienswyse he soos anti pat. Dalk weet sy self nie vir watse party om meer te stem nie. Baie deurmekaar maar vir my

Wil ook maar net sê! ·

DA asb laat die antie haar gang gaan julle het mos nou mooi gesien hoe die wind waai!
Mors asb jul tyd met beter dinge daar was nou al genoeg skade gedoen aan die DA deur dat julle nie die naalstring met haar wil knip nie.

Gert van Wierdapark ·

Me De Lille het met die DA verskil. Sy kyk nou met n ander bril wat die DA skynbaar laat gril. Haar nuwe “pil” laat jou ook glo Goed(Good)-voel, en die DA sluk swaar aan die “bitter-pil”. He-he-he!

kolla ·

So wat gebeur as die DA steeds weier om verskoning te vra as die hof wel so beslis? ‘n Boetetjie?

Ep ·

Wat n lot kinderagtige spulletjie … dan is die da wat Patricia hof toe vat dan weer Patricia wat weer da hof toe vat. Liewe vader mense word groot jul albei narre in jul eie sirkus !

aj ·

Waarom sou die DA vir Patricia wou swartsmeer?

Wat het sy verkeerd gedoen dat die DA teen haar begin optree het?

Sy geè voor dat haar geskil met die DA ‘n politieke geskil is …. terwyl dit ‘n geskil is oor korrupsie.

By die ANC het sy nou tuisgekom by die misdaad bende waarby sy haar sal tuisvoel.

SANTIE ·

Move on. Ek is bly antie Pat is by die ANC. Sy sal ‘n goeie watch dog wees.

rubberbal ·

Patricia ek salueer jou want jy het die patetiese DA net gewys jy sal nie onder gaan sonder n geveg nie… ek het hierdie jaar ook my DA stem vir die VF gegee .. maar geskreeu van blydskap toe jy stof in ou Moesie se oë geskop het en Minister geword het, waar is hy nou .. nogsteeds net n LP … YOU GO GIRL MAKE SOUTH AFRICA PROUD

Attie. ·

Patricia stem nie VF+ nie. Dit bring haar en alle DA en ANC ondersteuners op dieselfde vlak. Geluk Patricia…gee hulle opdraand.

AI ·

Kyk dis alles goed en wel, maar mag ek net aan die DA se regspan vra as jy nou nie die woord “afgedank” letterlik, moet opneem nie hoe moet jy dit dan opneem. Hulle moet dalk maar twee keer dink oor hulle respan. Politiek het regtig die man op straat se grootste vyand geword. Ek glo niks meer wat enige van die ou spulletjie kwytraak nie.

Rasper ·

Moet die DA nie liewer aandag gee aan die plaasmoorde nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.