Uitspraak voorbehou in grootste regstelsaak

Dirk Groenewald (heel links) saam met werknemers van die DKD Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Dirk Groenewald (heel links) saam met werknemers van die DKD Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Uitspraak is Donderdag voorbehou in die saak teen regstellende aksie binne die departement van korrektiewe dienste.

Die arbeidsappèlhof wat in die Wes-Kaapse hooggeregshof sit, het gesê hy moet die appèl oorweeg wat die departement voorgehou het.

Die departement appelleer teen ʼn uitspraak in die arbeidshof in 2013 dat hy nasionale en streeksdemografie moet oorweeg wanneer hy personeellede aanstel en bevorder.

Die vakbond Solidariteit het aanvanklik die hof genader nadat 10 werknemers, waarvan nege bruin werknemers is, nie aangestel is nie weens regstellende aksie.

Die departement het Donderdag die besluit verdedig en gesê dit is grondwetlik geldig. Die departement het aangevoer daar was grade van benadeling onder verskillende rasse tydens apartheid. “Om hierdie benadeling aan te spreek, moet mens verwys na diegene wat bevoordeel is. Dit is deel van die konteks,” het die departement se prokureur, Marumo Moerane, aan die hof gesê.

Martin Brassey, vir Solidariteit voer aan dat die regstellende plan nie buigbaar is nie en nie ten volle vorige benadeling rehabiliteer nie. Hy het gesê die departement se nasionale kommissaris moet afwyk van rasse-aanstellingsteikens. Dit geld slegs vir gevalle van skaars vaardighede of kritieke poste en nie individuele faktore soos ras of ervaring nie.

Regter Dennis Davis het gesê waardigheid speel ʼn rol om die doelwit van ʼn nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bereik. Hy het gesê hy vind dit aanstootlik om aan bruinmense te sê dat hulle nie so sleg behandel is as swartmense nie, wanneer hulle ook onderwerp is aan al die gewelddadigheid van apartheid.

Moerane het gesê dit is ʼn realiteit dat daar grade van diskriminasie was. Brassey het aangevoer dat daar oor die algemeen na swartmense en bruinmense verwys is as swartmense in die regstellendeaksiewet. “Die proses vereis dus dat apartheidstrukture tussen bruinmense en swartmense nie sal voortduur nie, maar dat swartmense generies geëvalueer word, soos die wet bepaal.” Hy het gesê die departement kan nie “silo’s wat op kleur gebaseer is” oprig nie.

Volgens Moerane kom die plan daarop neer dat daar ʼn oorverteenwoordiging van bruinmense in die Wes-Kaap is.

Die polisievakbond Popcru het as ʼn vriend van die hof opgetree. Vuyani Ngalwana, vir Popcru, het voorbeelde aan die hof voorgehou waar die departement buigsaam was in sy regstellendeaksieplan in die Wes-Kaap.

Solidariteit staan die aanvanklike arbeidshofuitspraak teen tot so mate dat hy nie sy lede vergoed het teen wie daar gediskrimineer is nie.

Lees alle vorige berigte oor die DKD-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae