Uitspraak voorbehou in handboek-saak

Argieffoto

Argieffoto

Die hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou rakende ʼn aansoek om die onderwysowerhede in Limpopo te dwing om uitstaande handboeke af te lewer.

Die gemeenskapsorganisasie Basic Education for All (Befa) het die aansoek gebring nadat die departement van onderwys erken het dat honderdduisende handboeke eers in April vanjaar besteel is weens begrotingsbeperkinge. Volgens die departement wag hulle steeds vir die aflewering van 158 000 handboeke.

Befa het aansoek gedoen vir ʼn hofbevel om die departement te dwing om te hou by sy spertyd van 6 Junie om alle uitstaande handboeke af te lewer. Hulle wil die departement ook dwing om met ʼn aksieplan vorendag te kom om ʼn soortgelyke situasie in die toekoms te voorkom. Die organisasie wil hê die proses moet deur Menseregtekommissie oorsien word en dat die versuim om handboeke af te lewer as ʼn skending van leerders se grondwetlike reg op basiese onderwys gesien moet word.

Regter Neil Truchten het dit duidelik gemaak dat hy die versuim om ʼn enkele handboek af te lewer as ʼn skending van regte sien maar sê die vraag is wie moet die blaam daarvoor dra. Chris Erasmus, die departement se regsverteenwoordiger, het aangevoer dat slegs 2,2% van die 7 miljoen handboeke nog nie in Limpopo afgelewer is nie aangesien skole te laat of glad nie tekorte aangemeld het nie. Hy sê die boeke is nie betyds bestel nie aangesien die provinsie ʼn tekort van R293 miljoen het in sy onderwysbegroting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.