Uitspraak voorbehou in hofsaak oor grondonteiening

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal Vrydagoggend om tienuur uitspraak lewer in die saak tussen AfriForum en die parlement oor die moontlike verandering van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik.

Dit was ‘n lang dag van intense debat voor ‘n volbank regters van die Kaapse hooggeregshof, waar die spanning soms hoog geloop het.

AfriForum probeer met die hofsaak verhoed dat die Nasionale Vergadering eerskomende Dinsdag die verslag van die parlement se grondwetlike hersieningskomitee, dat die Grondwet wel gewysig moet word, debatteer. Die parlement probeer verseker dat die debat wel voortgaan.

Aan die een kant het adv. Etienne Labuschagne, vir AfriForum, aangevoer dat ongeveer 176 000 voorleggings teen die voorstel ingedien is. Sodoende is mense hul grondwetlike reg op betekenisvolle deelname aan die demokrasie ontsê. Die proses is dus onregmatig.

Die voorleggings was gelykduidend in inhoud en is as herhalings deur die parlement hanteer. Baie daarvan is mense wat ‘n verklaring wat deur AfriForum versprei is, onderteken het.

Labuschagne het ook aangevoer dat die parlement sy plig versaak het deur sommige van sy verantwoordelikhede uit te kontrakteer aan ‘n diensverskaffer, en dat prosedurele foute gemaak is, so ‘n korrekte besluit kan nie op ‘n foutiewe aanname gemaak word nie.

Namens die parlement het adv. Tembeka Ngcukaitobi aangevoer dat die proses nie in hierdie stadium stopgesit kan word op AfriForum se gronde nie.

Hy het aangevoer dat die aansoek aan die een kant voortydig en aan die ander kant te laat is. Volgens Ngcukaitobi is die aansoek voortydig omdat die besluit of die Grondwet verander moet word, nog nie geneem is nie.

Hy het voorts aangevoer dat AfriForum nog baie geleenthede sal kry om insette in die proses te lewer omdat die inhoud van enige grondwetlike verandering ‘n afsonderlike proses is.

Ngcukaitobi het betoog dat gelykduidende voorleggings as ‘n enkele voorlegging hanteer word omdat dit nie ‘n referendum is nie, maar ‘n voorlegging van idees en standpunte. Hy het ook aangevoer dat Afriforum se regsoptrede ‘n aanslag teen grondhervorming is – ‘n bewering wat deur AfriForum betwis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Die ANC wil eers die wet deur die parlement voer en dan kan Afriforum die mostert na die maal uit die plaaskombuis na die tafel bring? Waaroor gaan die sous dan gegooi word? Mens het al beter verweer gehoor en dan word die vuil vloerlap natuurlik weer tevoorskyn gehaal om die regters se gevoelentes mooi in lyn te bring met die paradigma van die dag. Ons het die afgelope paar weke al mooi by die kommissie-biegsessies gehoor hoe edel en wonderlik die afgelope 25 jaar se nuwe SA-veranderinge uitgespeel het, so wees gerus mense die nuwe planne vir onteiening sonder vergoeding gaan net so eties geskied… moenie worry nie, watch net… dws as daar lig is… o ja, los die eish ook maar asb want die Vaalrivier se troebelwatertjies moet deesdae glo spaarsamig gebruik word…

Callie ·

Die regter is n ANC ondersteuner. Een wat hom nie sal steur aan die voorleggings van meer as 100 000 nie. Hy gaan teen Afriforum wees. Gewaarborg. Blindes kan dit met n stok voel

Staak saam ·

Doen weg met die woord grondhervorming. Grondhervorming het n politieke uitkoms gebaseerde doel, en daarteen behoort elke grondeienaar te rebileer. Wat wel aanvaarbaar vir ons is, is grondhandel.
Afri-forum julle kan gerus grondhervorming met elke geleentheid afbreek.

B-man ·

Dis reg. Gooi wal so ver en lank soos wat julle kan AfriForum!

Jerry ·

AfriForum se saak is nie gebou op rots nie, maar op sand, nogal dryfsand!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.