Uitspraak voorbehou in Molefe-pensioensaga

Brian Molefe in die hof. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag uitspraak voorbehou in die aansoek van die DA en die vakbond Solidariteit dat Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, se pensioenuitbetaling van R30,1 miljoen onwettig was en tersyde gestel moet word.

Prokureurs wat die partye verteenwoordig, insluitend Molefe, minister van openbare ondernemings Lynn Brown, die Eskom-pensioenfonds, Solidariteit en die DA, het Woensdag argumente gelewer voor ʼn volbank van drie hooggeregshofregters. Die verrigtinge is uitgestel, maar die volgende hofdatum is nog nie bekend gemaak nie.

Die DA en Solidariteit het die hooggeregshof genader en aangevoer Molefe moet die geld terugbetaal. Aangesien Molefe slegs ʼn vaste vyfjaarkontrak met Eskom aangegaan het, is daar nie ʼn manier wat hy geregtig is op ʼn uitbetaling van Eskom se pensioenfonds nie, het die twee partye beweer.

Die DA en Solidariteit hou vol Molefe moet gelas word om die R11 miljoen terug te betaal, wat hy reeds ontvang het as deel van die uitbetaling van R30,1 miljoen.

Molefe was tydens moeilike tye aan die stuur van Eskom nadat sy naam in die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se staatskapingsverslag opgeduik het.

Die hoëprofielsaak is Woensdag deur regter Elias Matojane, regter Hans Fabricius en regter Segopotje Mphahlele aangehoor.

Molefe was Woensdag in die hof en het aandagtig na die verrigtinge geluister.

Maroela Media het vroeër berig adv. Anton Katz, vir Solidariteit, het aan die hof gesê die uitbetaling aan Molefe is gedoen met die voorneme om te mislei om te verseker dat Molefe ʼn massiewe bonus ontvang. Katz het gesê indien die hof bevind Molefe is weg by Eskom weens sy gewillige bedanking, moet hy die geld terugbetaal wat aan hom as ʼn pensioen uitbetaal is.

Molefe het bedank net nadat sy naam in die staatskapingsverslag genoem is.

“Indien daar bevind word dat Molefe in November 2016 uit vrye wil bedank het, dan is dit voor die hand liggend dat hy [die geld] moet terugbetaal. Dit is so eenvoudig soos dit,” het Katz gesê. “Daar kan geen argument daaroor wees nie. Ons verstaan nie dat Molefe enige argument teen daardie voorstel het behalwe tegniese argumente nie.”

Molefe hou egter vol daar is vroeë aftrede aan hom toegestaan, ten spyte van die feit dat hy in die openbaar aangekondig het hy het bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carel ·

Is dit nie vreemd dat die wit “haaters” almal n wit prokureur ter verdediging kry as hul rug teen die muur is nie
So ook Molefe

Zumie ·

Stem… watter beter geleentheid om te wys hulle glo in BEE om vir hulleself ‘n nie-wit , agtergeblewe, gestremde (verkieslik verstandelik) advokaat te breveteer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.