Uitspraak voorbehou in saak oor onteiening

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die Kaapse hooggeregshof het Woensdag uitspraak voorbehou in ‘n hofsaak oor onteiening sonder vergoeding wat verskeie belangrike regspunte insluit.

Regter Hayley Slingers het argumente aangehoor van adv. Etienne Labuschagne, SC, vir AfriForum, en adv. Tembeka Ngcukaitobi, SC, vir die parlement.

AfriForum wil die parlement se proses om die Grondwet te verander ten einde onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, ongeldig verklaar kry op grond daarvan dat sowat 200 000 eendersluidende besware teen onteiening sonder vergoeding as net een beswaar getel is, en enkele tegniese punte.

Die eerste regsvraag is dus wat “betekenisvolle openbare deelname” beteken in verband met voorleggings aan ‘n parlementêre komitee. Moet elke mening afsonderlik behandel word, is die getal mense wat deelneem en ‘n spesifieke voorkeur het deurslaggewend, en wat gebeur as mense bloot ‘n eendersluidende dokument onderteken?

Labuschagne het aangevoer dit kan nie redelik wees dat die beginsel van betekenisvolle openbare deelname gevolg is as soveel voorleggings in praktyk nie afsonderlik in ag geneem word nie.

Hy het volgehou dat dit ‘n verbreking is van die grondwetlike reg op administratiefregtelike openlikheid en deursigtigheid en die argument verwerp dat hierdie ‘n politieke argument is.

Hy het aangevoer dat dit eerder gaan om ‘n grondwetlik gewaarborgde reg wat geskend is, en dat die hof riglyne moet neerlê oor hoe geldige betekenisvolle openbare deelname in die parlementêre proses voordat tot wetskrywing oorgegaan word, moet plaasvind.

Labuschagne het ook uitgewys dat ‘n diensverskaffer die telproses en die voorleggings hanteer het, wat volgens hom ‘n verkeerdelike opsegging van parlementêre verantwoordelikheid was.

Ngcukaitobi het aangevoer die saak is redelik onsinnig omdat die proses reeds ver verby die punt onder bespreking gevorder het – die tyd het die argument ingehaal. (Die feite is dat hierdie saak in November 2018 voor die hof gedien het, en toe op sterkte van die einste Ngcukaitobi se argumente uitgestel is omdat dit nie destyds as dringend beskou is nie.)

Ngcukaitobi het dus nou aangevoer die komitee se bevindings en prosesse was spesifiek nie bindend op die twee komitees wat sedertdien as nuwe handelinge gevorm is om die proses verder te neem nie, so ‘n bevinding hieroor is irrelevant. Hy het gesê die proses wat tans deur middel van ‘n ad hoc-komitee aan die gang is, sluit ook openbare deelname in. Voorts het hy gesê die aanwysing van die diensverskaffer is korrek gedoen en dat die diensverskaffer dus as agent van die parlement opgetree het – daar was geen abdikasie van verantwoordelikheid nie.

Ngcukaitobi het ook gesê openbare deelname is nie ‘n referendum nie – dis nie bloot ‘n geval van wie sy ondersteuners die beste mobiliseer, se wil geskied nie. Die besluit berus by die parlement.

Regter Slingers het uitspraak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Gaan blaas doppies en gaan werk vir jou geld soos ons doen! Geen oortreding sal geduld word nie. Gaan vat dan die unie gebou en Cyril en kie se eiendom!

#Tsek ANC tsek!

Hoekom ·

Natuurlik is daar nie meer referendums nie. Hierdie is nie meer ‘n republiek nie, dit is ‘n een party kommunistiese diktatorskap, regeer deur die ANC cartel…

Alleen Wolf ·

Alweer voorbehou, kan die mense nie ‘n besluit maak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.