Uitspraak voorbehou in saak teen NSFAS

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

AfriForum Jeug se saak teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. NSFAS het in 2020 sowat 5 000 studente se befondsing summier gekanselleer, en 132 van hierdie studente het AfriForum Jeug genader om hulle by te staan.

NSFAS het beweer dat die studente oneerlik was met hulle aansoeke en het ook SMS-boodskappe aan die studente gestuur waarin beweer is dat inligting van die SAID ontvang is wat aandui dat die studente se huishoudelike inkomste meer as R350 000 per jaar is. In die hof is erken dat NSFAS nie die inligting van die SAID ontvang het nie, maar wel van ’n kredietagentskap wat bloot huishoudelike inkomsteskattings gemaak het. Die saak is deur die agbare regter Sher aangehoor en hy het hierdie bekentenis as uiters kommerwekkend beskryf. Uitspraak is voorbehou.

“NSFAS is die probleem,” sê Chantelle du Preez, nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum Jeug. “Universiteite wat nie die studente bystaan nie, of in die steek laat, is net ’n simptoom van die werklike probleem en al die leë beloftes wat deur NSFAS gemaak word. Die verbreking van dié beloftes veroorsaak ook nog verdere moeilikheid op kampusse reg oor die land. Ons hoop die uitspraak in hierdie saak sal in die guns wees van die studente wie se toekoms nou op die spel is.”

Du Preez sê baie studente en hulle families wag in spanning om te hoor wat die uitspraak in hierdie saak gaan wees, aangesien dit net twee uitkomstes vir die studente kan inhou. “Daar is slegs twee uitkomstes: dat die studente se toekoms veilig is en hulle verder mag studeer omdat die studieskuld soos aanvanklik onderneem deur NSFAS betaal sal word, of dat hulle ’n ander plan sal moet maak om hulle onvoorsiene studieskuld af te betaal en verder te studeer, wat sal beteken dat hulle toekomsplanne drasties gaan verander.”

AfriForum Jeug sal aanhou veg vir die regte van studente wat in die steek gelaat word op kampusse oor die land. Verdere navrae van studente in verband met NSFAS kan per e-pos aan [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
marinda

Vlg artikel: ” In die hof is erken dat NSFAS nie die inligting van die SAID ontvang het nie, maar wel van ’n kredietagentskap wat bloot huishoudelike inkomsteskattings gemaak het”.. bly in woonbuurt wat oorgeneem is deur studentewonings..die hoeveelheid motors, wegneemetes en daaglikse sakke inkopies wat ons waarneem getuig nie van studente wat finansieel behoeftig is nie