Uitspraak voorbehou in Sanral-geheimhoudingsaak

Argieffoto Foto: www.capetown.travel

Argieffoto Foto: www.capetown.travel

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag uitspraak voorbehou oor ʼn aansoek deur Sanral om die stad Kaapstad te verhoed om dokumente van sy N1/N2 Wynland-tolprojek publiek te maak.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van Kaapstad, het gesê die stad het sy argument, om die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se aansoek teen te staan, afgehandel. “Al die partye moet nou skriftelik voorleggings by die regter indien oor die saak of die stad sy aanvullende bevindings in ʼn publieke hof mag publiseer,” het Herron gesê. Dié aanvullende dokumente bevat belangrike besonderhede oor miljarde rand se konstruksiewerk en die voorstel om die N1 en N2-snelweë tolpaaie te maak.

“Die stad staan dié tolprojek teë, sowel as Sanral se aansoek dat die aanvullende dokumente geheim gehou moet word,” het hy verduidelik.

Sanral het Maandag sy aansoek gebring om die dokumente uit die openbare oog te hou weens handelsvertroulikheid. Die aansoek is in camera aangehoor.

Die stad het verlede jaar in Mei ʼn tussentydse interdik bekom om die voorgestelde N1/N2-tolprojek op te skort. Die interdik bly van krag totdat die hof Sanral se verklaring oor die projek aangehoor het en die voorgestelde bieër aangewys is. ʼn Datum vir die hersiening is nog nie vasgestel nie.

Sanral het Maandag gesê sy aansoek hou verband met tenderprosedures. “Ons het dit gedoen omdat die voordele van sulke planne of tenders nog nie vasgemaak is nie en ʼn kompeterende tenderproses kan moontlik benadeel word indien die inligting voortydig bekend gemaak word,” het Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

se-net ·

Ag twak man!!! Jul het lankal die TENDER(as daar was?) toegeken!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.