Uitspraak voorbehou oor Afrikaans by Unisa

hof-hamer

Argieffoto.

Uitspraak is voorbehou in die saak van AfriForum teen die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eentalige Engelse taalbeleid. Dié saak is Maandag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Unisa se nuwe taalbeleid bepaal dat Engels die enigste primêre onderrigtaal aan dié instelling is, wat die uitfasering van Afrikaans sal beteken.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, kom dit op ’n growwe skending van Afrikaanse studente aan dié instelling se internasionaal erkende taalregte neer.

“Unisa het oor dekades die vermoë om modules in Afrikaans aan te bied, vervolmaak. Met die nuwe beleid gee die universiteit ’n reusestap agteruit na eentaligheid, tot die nadeel van Afrikaanse studente, maar ook alle ander sprekers van inheemse Suid-Afrikaanse tale. AfriForum hoop dat hierdie saak in die burgerregte-organisasie se guns beslis sal word sodat toegang tot tersiêre studie uitgebrei word, eerder as om eerstetaal-Engelssprekendes verder te bevoordeel en die meer as 90% ander Suid-Afrikaners soos tweedeklasstudente te behandel deur hulle te dwing om in ’n tweede taal te studeer.”

Bailey verwys na die hersiene nasionale taalbeleid vir hoër onderwys wat tans, soos aangekondig in die Staatskoerant van 23 Februarie 2018, vir openbare kommentaar beskikbaar is.

“Die konsepbeleid maak juis voorspraak vir breër taalbemagtiging en erken Afrikaans as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal. Unisa se besluit ten gunste van ’n eentalige taalbeleid druis lynreg hierteen in. Verder is Unisa uitnemend geskik om volwaardige meertalige onderwys in verskeie tale aan te bied omdat dit ’n afstandsonderriginstelling is waar sogenaamde gesegregeerde klasse nie, soos by die Universiteit van die Vrystaat (UV), as verskoning vir eentaligheid gebruik kan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Ek verstaan Afriforum duidelik of verkeerd of glad nie. Ek het ‘n besigheid vir 25 jaar en floreer op my oppossisie se foute. Kan Akademia nie dieselfde doen nie ?? In plaas van hof toe gaan oor elke moontlike verskil, gebruik eerder daai geld en brei Akademia uit. Hoe meer Engels die ander universiteite word, hoe makliker behoort Akademia meer Afrikaanse studente te kry, is dit nie. Bied net die mees basiese graad en diplomakursusse aan, waarvoor daar altyd ‘n werkaanbod vir studente sal wees, en Akademia behoort binnekort sterk te staan.

Stem ·

Ek stem ten volle saam. Akademia kan munt slaan, hulle moet net beide modelle van unisa en voltydse instelling aanneem, waar jonges wat gelukkig is om voltyds te studeer n lekker studentelewe kan he op kampus (al is dit net op hul grootste kampusse) en die wat nie kan nie soos deur unisa verder kan studeer deur die internet of pos. Hulle moet ook alle oud studente van voormalik Afrikaanse universiteite aanmoedig om hul alumniegelde aan Akademia oor te dra.

Casper Labuschagne ·

@Frikkie Geld en Huis, Akademia is slegs een universiteit wat nog in sy kinderskoene is en ook slegs ‘n beperkte hoeveelheid akademiese rigtings dek. Daarby is daar nagenoeg 20,000 van Unisa se studente wat in Afrikaans wil studeer waarvan sekerlik die meeste net deeltyds deur afstandsonderrig kan studeer. En al sou Akademia alle graadrigtings kon aanbied, kan ‘n enkele universiteit geensins die plaasvervanger wees vir sewe universiteite wat eens Afrikaanse onderrig aangebied het nie.

May!!! ·

Aai aai!!! Ons Afrikaners/witmense ! Wat gaan tog van ons word? Op die trant!!!

Blink toekoms ·

As ons met die regering en internasionale organisasies gesprekke voer vir ‘n eie stuk land sal dit baie goed vorentoe gaan.

Lolla ·

Hou ons volmaakte modules, ons hou ook ons belasting aangesien ons die minderheid is en hulle ons belasting nie behoort te mis nie, en ons bou ons privaat Afrikaanse Universiteit. Ons sal altyd die nuwe bouers wees, terwyl hulle altyd die vergrypers sal wees.

Andre ·

Na transformasie kan die meeste Unisa mense nie Afrikaans lees of skryf nie. dis nou nog net Engels wat hulle kan lees en skryf, al is dit nie op wereld standaard nie. Maar die troos is hulle kwalifikasies is ‘n grap, niks werd. Maar Julius Malema is steeds bly oor sy Unisa “kwalifikasies”. Unisa het hom so geprys. My vraag is of Unisa se kwalifikasies in die Eerste Wereld herken word? Ek dink nie Unisa is meer relevant nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.