Uitstel van verkiesing bedreig die Grondwet

Argieffoto (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Helen Zille, federale voorsitter van die Demokratiese Alliansie, het Woensdag tydens ʼn perskonferensie gewaarsku indien die verkiesing uitgestel word, dit ʼn voorloper kan wees vir die ontrafeling van ons grondwetlike demokrasie.

“Die DA het versoek om bygevoeg te word tot die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se hofsaak by die konstitusionele hof waar die OVK aansoek doen om die Oktober-2021-verkiesing tot vroeg 2022 uit te stel. Dit is ʼn saak van nasionale belang,” het Zille gesê.

Die DA het in sy aansoek gewys dat dit, gebaseer op wetenskaplike bewyse wat met die Covid-19-pandemie verband hou, heeltemal moontlik is om steeds te hou by die geskeduleerde datum van 27 Oktober. Ons wys dat daar lewensvatbare alternatiewe vir die OVK is (sonder om die hof te vra om die Grondwet te wysig) om die geïdentifiseerde risiko’s te takel en die tekortkominge in hul voorbereiding vir die verkiesing reg te stel binne die oorblywende tydsraamwerk.”

Dit hou veral verband met kieserregistrasie – ʼn onmisbare element om ʼn vry en regverdige verkiesing te hou kragtens die Grondwet.

In teenstelling met ander byeenkomste word die tydsberekening van verkiesings in die Grondwet uiteengesit. Dit kan slegs verander word deur ʼn grondwetlike wysiging wat ʼn 75%-meerderheid in die parlement vereis.

Zille sê die opstellers van die Grondwet het dit doelbewus uiters moeilik gemaak om die gereeldheid van verkiesings te verander, weens die risiko dat ʼn regerende party moontlik sou kon inmeng met die skedule van verkiesings. Daar is slegs een manier wat die Grondwet gewysig kan word, en dit is deur die vereiste meerderheid in die parlement. “Geen hof nie, nie eers die konstitusionele hof, het die mag om die Grondwet te wysig of selfs tydelik op te skort nie – weens die oppermag van die Grondwet. Dit beteken dat die metode wat in die Grondwet uiteengesit is, die enigste metode is om dit te doen.

“Dit is ons mening dat die ANC bewus was daarvan dat hy nie ʼn 75%-meerderheid sou kon kry nie, en dus ʼn ander roete gekies het,” het Zille bygevoeg.

“Ondanks die feit dat die OVK die mylpaal sou kon haal vir ʼn vry, regverdige en veilige verkiesing binne die gespesifiseerde tydsraamwerk, het hulle versuim om dit te doen en nou dwing hy die hof in ʼn rigting in deur te sê hy kon nie betyds voldoen aan die voorwaardes vir ʼn vry, regverdige en veilige verkiesing nie. Ons aansoek daag dié bewerings.”

Zille sê dit is beslis moeiliker om ʼn verkiesing onder Covid-19-voorwaardes te hou, maar dit is die OVK se plig om dit te doen en talle lande het dit al tydens die Covid-19-pandemie gedoen. “Tussen Februarie 2020 en 21 Julie 2021 het minstens 128 lande en gebiede al nasionale en sub-nasionale verkiesings gehou, ondanks kommer oor Covid-19. Minstens 107 het nasionale verkiesings of referendums gehou. (Bron: International Idea Institute for Democracy and Electoral Assistance).”

Volgens die DA is daar geen bewyse dat verkiesings tot ʼn toename in gevalle lei wanneer behoorlike protokol gevolg word nie. “Die enigste twee uitsonderings is Indië en die VSA waar groot kieserbyeenkomste superverspreider-byeenkomste geword het. Groot byeenkomste is egter nie ʼn noodsaaklike komponent vir vry en regverdige verkiesings nie.”

Die DA stel voor dat die hof, in plaas daarvan om die Grondwet te wysig of op te skort, eerder aanbeveel dat artikel 6(1) van die Munisipale Verkiesingswet opgeskort word wat bepaal dat die kiesersrol gesluit moet word op die dag wat die verkiesing gepromulgeer word. “Die hof kan alternatiewelik die proklamasie opsy sit sodat ʼn nuwe tydsraamwerk saamgestel kan word in aanloop tot die verkiesing in Oktober.”

Kenners se getuienis voor die Moseneke-kommissie van Ondersoek het ook aangedui dat die infeksiekoers waarskynlik laag sal wees in die weke voor 27 Oktober – as daar gekyk word na die golwe van ʼn toename en afname van gevalle.

“Ons hou vol dat die moontlikheid om ʼn veilige verkiesing in Oktober te hou dus goed is, terwyl daar onsekerheid heers oor wanneer ons ʼn vierde vlaag gevalle kan verwag. Vooruitskattings volgens die patroon van vorige Covid-19-golwe wys dat Suid-Afrika waarskynlik vroeg in 2022 die vierde golf sal beleef, en dat dit moontlik ʼn hoogtepunt kan bereik in Februarie. Dis dus baie moeilik om te verstaan waarom regter Moseneke en die OVK dié bewyse ignoreer.

“As die hof hom die mag toeëien om die Grondwet te wysig net omdat dit die ANC pas, sal die presedent wat hierdeur geskep word, rampspoedig wees. Dit kan ʼn voorloper wees tot die ontrafeling van ons grondwetlike demokrasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Die EFF hou saamtrekke, die onlangse plunderings waar masses teenwoordig was en geen styging in Covid gevalle en sterftes daarna gemerk nie, veral onder die skuldiges. Covid gebruik as ‘n verskoning en ook om die ramptoestand te verleng. Dat Zondo die hofaansoek aanvaar wys daarop dat hy nie ruggraat het om die Grondwet te beskerm nie, net gedienstig aan die ANC.

annie ·

Politieke partye dink almal net aan hulself: Die ANC is in chaos en wil nie nou die boat verder rock nie; die DA sien ‘n gulde geleentheid om die chaos uit te buit; die VF+ kan baie stemme van verwarde en bang Afrikaanses en Boere inwin vir ‘n stoel vorentoe; en die EFF+ droom oor die chaos se verdere vergrype en daai lappie met ‘n sonstoep en ‘n vol kelder. En Ace en Zuma en Zuma jr droom groot oor uitstel en afstel en herstel en daai lekker dae saam met die Guptas. Ons res is gemuilband…

Hennie J ·

Kan jy glo? Anc “geseende” regters matig hulself tot so n mate aan dat hulle glo hulle is verhewe bo die grondwet. Dali het seker die regsmening aan hulle verskaf!

Anoniem ·

Watter grondwet? Hierdie land se grondwet word lankal nie meer gerespekteer nie. Die klomp…………………….. verander die grondwet na hul wense.

Peach ·

Die Wuhan siekte het alles kom verander….. niks sal ooit weer dieselfde wees nie en, indien nodig, moet die grondwet aangepas word….. nothing cast in stone.

Andre ·

Covid gemors word as n rook skerm gebruik om uitstel tot die verkiesing te verkry,hierdie cANCer weet as daar nou n verkiesing is gaan hulle n helse pakslae kry

Suzette ·

Die regering aan bewind voel ‘n veer vir die Grondwet…..

Hendrik ·

Ek sien die deelname van minderhede as ‘n gestoei en gespartel net om proposionele sitplekke te kry. Minderhede is maar net fluitjie blasers in die hele demokrasie waar die belastingbetalers se geld gebruik word om die kader te verryk. Mag beteken geld in die sak.

Pieter ·

Wat se grondwet die ANC land is n grap n kommunis maak nes hy wil. Die oor see se lande hou mos van hulle kommuniste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.